Ai onnies, julle gee te veel huiswerk!
Ouers kla omdat kinders te veel take gedurende die inperking kry

“Asof die inperking nie reeds genoeg spanning meebring nie, word ons kinders nou oorlaai met skoolwerk. Ons as ouers probeer ons bes om ons eie kantoorwerk van ons huise af te doen, maar tussendeur moet ons ook nog probeer om ons kinders met hul skoolwerk te help. Dit hou ons soms tot laat in die nag besig.”
Só kla een van talle ouers wat Vaalweekblad privaat gekontak het oor hul kinders se groot werkslading. Al die ouers het gevra om anoniem te bly.
“Dit lyk my die inperking maak die onderwysers hiperaktief op WhatsApp. Hulle gee vir ons kinders meer huiswerk as wat hulle in normale skooltyd kry. Net één vak se huiswerk het my kind gister ses ure lank besig gehou. Elke onderwyser vergeet blykbaar dat daar ook ander vakke is en dat élke onderwyser baie huiswerk gee,” kla ‘n ander ouer.
Nog ‘n ma sê ‘n groot probleem is dat hul kinders se huiswerk vereis dat drukstukke gemaak moet word. Ouers wat nie self rekenaardrukkers het nie, moet dan die risiko loop om uit hul huise te gaan en diensverskaffers te gaan soek wat gedurende die inperking drukwerk doen.
“As jy nie ‘n drukker in die hande kan kry nie, moet die werk met die hand uitgeskryf word – dit is ure en ure se werk. My kind se hand is al lam want elke onderwyser van elke vak vereis daagliks ‘n magdom werk en ons kan dit nie meer bekostig om elke dag print-outs te laat maak nie,” kla sy.
Van die ouers sê hulle vermoed skole het “met opset” opdrag aan hul onderwysers gegee om die kinders te “dryf” met hope werk, sodat hulle steeds op volle skoolfonds gedurende die inperking kan aandring.
“Die lewe is op die oomblik ‘n nagmerrie vir ons gesin. Ons het ‘n eenmansaak, en my vrou en ek werk van ligdag tot laat saans om ‘n inkomste te probeer verdien, wat tans minder as 20% van ons normale inkomste is. Ons werk net om darem elke dag kos op die tafel te sit. Hoe ons die skoolfonds gaan bykom, is anderdag se probleem. Ons hoop maar die skole gaan ons genadig wees,” kla een van die pa’s.
* Skoolhoofde en onderwysers wat anoniem wil reageer en hul standpunt wil stel, kan ‘n e-pos na rfichat@media24.com stuur.



