Kinderverhaal: Wimpie Worshond word ‘n held
© Santi Kruger deel graag 'n kinderverhaal met Vaalweekbladlesers. Sy hoop dat ouers dit aan hul kinders sal voorlees en dat dit goeie gesinstyd sal bied.
Wimpie worshond word ‘n held
Wimpie is ‘n baie lui en vet worshond. Al wat hy wil doen is om in die son te lê en bak. Hy woon lekker hier by die Smit gesin. Lui lig hy sy oor toe hy mamma Smit hoor roep. “Wimpie!, Wimpie! Waar is jy tog? Kom gou, dit is etenstyd!” Toe hy hoor dit is etenstyd spring hy gou op en draf na die kombuis. Dit is Vrydag en dan word al die diere met ‘n lekkerny bederf. In die kombuis sien hy dat mamma besig is om vir Kokkie die kokketiel lekker neute te voer. Krummels die hamster kry droë-vrugte. Vetkat is alreeds besig om aan sy tuna te smul. Hy stap na sy bakkie, maar, dit is dan nog leeg! Mamma smit draai om en sien hom daar staan. “O, hier is jy! Kom, kom kry vir jou lekker biltong!” Hy swaai sy stertjie. Biltong is sy gunsteling!
Nadat mamma Smit almal versorg het, stop die skoolbus voor die huis. Al die diere is opgewonde, Ben is terug van die skool. Kokkie fluit ‘n opgewekte deuntjie. Vetkat purr en miaau al rondom mamma se bene. Krummels hardloop in sy wiel. En Wimpie? Hy lê lui en bak in die sonkol op die stoep. Hy weet tog dat Ben hom eerste sal groet. Toe hy hier aangekom het, het hy gewoonlik stertswaaiend vir Ben by die hek ingewag. Daarvoor het hy te lui geword. “Hallo ou luies!” groet Ben hom en krap sy oor. Wimpie bly in sy sonkol lê, swaai net sy stert lui heen en weer. Ben verdwyn in die huis, groet vir mamma en gesels met al die diere.
“Ben, as jy klaar is met middag ete, moet jy gou-gou jou tas gaan pak. Sal jy kyk dat al die diere genoeg kos en water in hul houers het? Pappa gaan netnou hier stop dan gaan ons ry. Sien jy al uit na die lekker langnaweek op die plaas? Ek weet jou neefs kan nie meer wag om jou te sien nie!” Alhoewel Ben opgewonde is oor die kuier, is hy nogtans hartseer om sy diere maats agter te los. “Goed mamma” sê hy en eet vinnig klaar.
Ben versorg al die diere. Eerste maak hy Krummels se hokkie skoon. Terwyl hy daarmee besig is, rol Krummels in sy bal op die kombuis se vloer rond. Vetkat geniet dit, dan speel hy gewoonlik met Krummels, hy rol die bal vinnig heen en weer oor die vloer. Krummels die hamster kraai van plesier, hy geniet hierdie speeltyd met Vetkat. Ben was en droog die hokkie uit. Nuwe saagsels word ingesit. Hy maak seker dat daar genoeg kossies en lekkernye in die bakkies is en vars water in die water botteltjie. Daarna is dit Kokkie se beurt. Kokkie sit gewoonlik op Ben se skouer terwyl sy hokkie skoongemaak word. Hy geniet dit en fluit ‘n vrolike deuntjie. Vetkat en Wimpie se bedjies word goed uitgeskud. Daar is houers in die kombuis wat gevul word met kat en hondepille en ook vars water. Ben sit ook vir hulle elkeen ‘n lekkerny eenkant. Vir ‘n rukkie speel hy met al sy diere maats. Dan roep mamma, dit is tyd om te ry. “Ek gaan julle ongelooflik baie mis, maar moenie bekommerd wees nie, ons is sommer gou-gou terug!” sê hy terwyl hy elkeen vryf.
Die Smit gesin is alreeds drie dae weg, die diere is opgewonde, vanaand kom Ben en pappa en mamma huis toe.
Dit is donker in die huis, Kokkie hoor iets by die deur. Sy hart klop in sy keel. Dit is nie die Smit gesin nie, hul motor het nog nie ingedraai nie. “Wimpie, Wimpie! ” fluister hy, “jy moet kom kyk, hier is iemand by die deur!” Wimpie lig lui sy oor. “Aag Kokkie, dit is net die wind, loop slaap nou…”
Daar is ‘n harde slag! Die deur swaai oop. Kokkie skrik baie groot. “Skelm! Skelm!” kras hy. Nou is Wimpie wawyd wakker. Hy moet iets doen- maar wat? Hy blaf en grom en blaf en grom. Hy weet wat hy moet doen. Hierdie skelm sal nie wegkom nie. Hy gryp die skelm aan sy enkel en byt so hard as wat hy kan. “Voetsek!” skree die skelm. Die skelm val en Wimpie byt nou aan sy broekpyp vas vir al wat hy werd is.
“Voetsek! Voetsek!” eggo Kokkie. Alles gebeur nou baie vinnig, die lig gaan aan. Die skelm spring op, Wimpie het hom nog steeds aan sy broek. Pappa se vuis tref die skelm baie hard. “Vat so, jou maai-foedie!” Ben bring ‘n tou, dan bind pappa die skelm vas. Mamma bel die polisie. “Wimpie is ‘n held! Wimpie is ‘n held!” kras Kokkie.
“Hoor net daar oubaas se honne” pappa vryf vir Wimpie. Wimpie Worshond is op hierdie oomblik baie trots. Hy is ‘n held, hy het die skelm gekeer en gehelp om hom te vang. Daar en dan besluit hy om nie meer lui te wees nie. Aikona, helde is nie lui nie. En Wimpie Worshond is van nou af ‘n held.
© Santi Kruger



