NewsNews

Hoe gaan dit met ons Namibiese taalgenote?  

WINDHOEK. - Suid-Afrikaners en al die grendelstaat reëls en regulasies akkodeer nou nie meer so lekker nie. Dit skaaf en skuur ons nerwe stukkend en emosies rou.

In die proses kan ons dalk vergeet dat ons nie die enigste land is wat nou in een of ander vorm van inperking is nie. Ons bure en mede-Afrikaanssprekendes in Namibië sê al die inperkings het hul lewens ook maar deurmekaar gekrap.

Vaalweekblad het met oud-PUK, Ruhan Bothma, gesels om te hoor hoe gaan dit in Windhoek en omgewing…

Namibië het die dag na Suid-Afrika (28 Maart 2020) ‘n baie streng inperkingstyd betree. Op daardie stadium het hul 16 bevestigde Koronavirus gevalle gehad. Die getal het tot op 11 Mei 2020 nie vermeeder nie en 11 van die 16 het al herstel. Onder die grendelstaat is alle nie-essensiële besighede en skole gesluit.

LEES OOK: Jy mag rook net nie rookgoed koop

Ruhan sê: “Gedurende hierdie tydperk was ons gevra om tuis te bly en net in noodsaaklike gevalle in die openbaar te gaan. Ons was toegelaat om wegneemetes te koop en die meeste kruideniersware winkels was oop. Mense het egter mooi gehou by die voorwaardes. Ons kon gedurende die hele lockdown periode aktief wees. Jy mag gaan stap, draf, fietsry en perdry. Gimnasiums is egter gesluit en bly voorlopig gesluit. Ek dink daar het mense begin stap wat in jare nooit gestap het nie. Daar mag ook nie gedurende hierdie tyd meer as 10 mense by ‘n huweliksbevestiging of begrafnis wees nie.”

Die ergste inperkings is op 5 Mei 2020 gelig, alhoewel die skole steeds gesluit is en die ouers tuisonderrig doen. Die meeste skole het nou ‘n e-skoolstelsel waar kinders hul werk kry en dan sorg die ouers dat dit gedoen word. Volgens die jongste inligting maak Namibiese skole weer amptelik begin Augustus oop, maar dit kan verander en vroeër ook plaasvind. Die meeste besighede mag weer handel dryf solank hul sekere regulasies nakom. En ja… hulle mag sigarette koop, maar die koop en verkoop van drank is verbode.

‘n Groepie vriende hou hul eerste braai nadat die inperkingsreëls bietjie verslap is in Namibië. Ruhan sê: “Soos Namibiërs doen het ons gebraai, want kos bring mense bymekaar. Hier is die klomp besig om kos te skep.”

Ons buurland se mense is bekend vir hul gasvryheid en lekker kuiersessies. Die eerste vyf weke se kuierverbod was nie lekker nie, maar soos Ruhan sê: “Namibiërs is in die algemeen baie positiewe mense en onder die omstandighede gaan dit relatief goed met die mense van die land. Ons kan darem nou in die openbaar gaan met maskers sonder dat die polisie of weermag wil weet waarheen jy op pad is en jy nie ‘n ellelange verduideliking hoef te gee hoekom jy moet winkel of apteek toe gaan nie. Hulle het sulke random padblokkades gehou.”

Een ding waaroor hy baie bly is, is dat hy verlede Dinsdag sy hare kon laat sny. Hy het dit blykbaar in die inperkingstyd self geskeer, met minder goeie gevolge. “Dit was nodig dat ‘n professionele persoon die skade herstel” lag hy.

Ruhan is by uitstek ‘n ekstrovert met ‘n vriendekring wat wyd en ver oor landsgrense strek. Hy is op sy gelukkigste as hy saam met sy vriende aan’t jag, kuier of kosmaak is. Wat maak hy in hierdie dae van isolasie? “Ek behoort aan ‘n boekklub en lees graag. Mens doen maar allerhande dinge om besig te bly, soos om huis skoon te maak, die motorhuis uit te sorteer en in die tuin te werk. Ek oefen ook graag en gaan draf of stap so tussen 5 en 8 kilometer byna elke aand. Die oefening doen ‘n mens fisies goed en is net so goed vir ‘n mens se gemoedstoestand.”

LEES OOK: 12 Mei: SA het nou 10 652 Covid-19 gevalle

Sedert die noodmaatreëls verslap is, het mense ook weer begin oor en weer kuier. Hulle hou die groepies maar klein soos wat vereis word.

Die gekuiery word egter nie aanbeveel nie, seinde dat die noodtoestand nog nie heeltemal opgehef is in die land nie. Ruhan sê hy het al ‘n braai of wat bygewoon en dit is nou nog nie heeltemal op die skaal wat hul voorheen gekuier het nie. “As mense by mekaar kom word daar nie gedruk en gegroet soos van tevore nie en daar word tog ‘n mate van afstand gehou,” beduie hy.

Wat mis hy die meeste? “Ek is ‘n sosiale wese. Ek mis die spontane kuiersessies met vriende. Dan ook om nie ‘n masker te dra in die openbaar nie. Dit bly vir my voel ek kry nie asem agter die ding nie.”

“Sê nou maar ons word môreoggend wakker en hulle sê die Koronavirus het oornag wêreldwyd verdwyn, waarheen sal jy gaan?” wonder ek. Hy hoef nie te dink nie. “Ek het ‘n gunsteling plek naby Lambertsbaai aan die Weskus. Ek sal daarheen gaan.”

Hy het ‘n paar dinge gedurende die lockdown besef, soos met hoe min ‘n mens kan klaarkom en hoe baie ‘n mens onnodig geld uitgee. “‘n Mens is nie ‘n eiland nie, jy het ander mense om jou nodig, of dit nou is om jou te help met sekere dinge of om mee te gesels. Ek het nou weer eens besef wat die waarde van vriendskappe is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button