HS Sasol-leerlinge haal nasionale prosa en poësie publikasie
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het bekend gemaak wie in hul nasionale prosa en poësie publikasie Poort opgeneem sal word vir 2020. Sasol Hoër spog nie net met 5 werkstukke in die spog-publikasie nie, maar Nina Marais se opstel, My laksman, is nommer 3 in die land!
Die ander werkstukke wat ook in Poort sal pruik sluit in: ‘n Opstel deur Tiaan Booyens, Kayla Nel en nog ‘n opstel deur Nina Marais (dus twee), asook ‘n gedig deur Jonette van Rooy.
Die skool het beslis rede om trots te wees op die vier leerlinge.
Nina Marais is no. 1 van die skool se akademiese Top 10. Boonop is sy ‘n briljante skaakspeler .
Nina was deur die jare die SA dogters skaakkampioen in die o/8, o/10, o/12, o/14 en o/16 afdelings. Sy het Suid-Afrika verskeie kere verteenwoordig in die Afrika Junior Kampioenskappe en vier keer ‘n tweede, derde of vierde plek verower. Sy het Suid-Afrika ook verskeie kere tydens die Wêreld Jeug- skaakkampioenskappe in Griekeland, Slowenië, Brasilie en Rusland (en in 2013 op eie bodem in Durban) verteenwoordig.
Op senior vlak het sy twee keer aan die SA Vroue Geslote Kampioenskap deelgeneem. In 2017 het sy die algehele derde plek verwerf en in 2019 die alghele vyfde plek.
Sy is ook ‘n kranige redenaar en akteur wat vanjaar ‘n rol in een van die skool se toneelproduksies sou vertolk het.
Jonette van Rooy is vanjaar se VRL-leier en geweldig veelsydig. Sy is baie veelsydig, noem dit en sy doen dit: landloop, netbal, toneel, debat, redenaars, karate, dogterskrieket. Boonop is sy ook akademies baie sterk. Sy’s no. 2 van die skool se huidige gr. 12-groep se Top 10. Sy het ook vanjaar ‘n toneelteks geskryf wat sy gehoop het om op die planke te bring vir vanjaar se ATKV-Tienertoneel en ander kunswedstryde .
In haar graad 9-jaar het Jonette en Kayla die 1ste plek in ‘n afdeling van die Vrystaatse Skryfkompetisie gedeel. Daar is ook verlede jaar in Poort een van haar gedigte gepubliseer.
Kayla Nel is ‘n briljante kunsleerling. Sy is ‘n baie goeie skrywer wat by plaaslike kunswedstryde uitstekende uitslae met haar skryfwerk behaal het. Sy het in gr. 9 reeds die eerste plek vir die Vrystaatse Skryfkompetisie met Jonette gedeel.
Tiaan Booyens was in 2019 Hoërskool Sasolburg se VRL-leier. Hy was die koördineerder van die skool se Engelse skryfklub. Hy het ook verskeie rolle in die skool se toneelproduksies vertolk. Hy was no. 1 van die akademiese Top 10 in sy matriekjaar. Hy studeer tans aan die Universiteit van Stellenbosch vir BA Taal en Kultuur.
- Vaalweekblad is net so trots op die prag-pretasies deur die leerlinge! Baie geluk aan julle en die skool.






