Prof. Pothole geniet hom gate uit
VANDERBIJLPARK. – As jy iets doen, doen dit met oorgawe. Dit is hoe Allan Fourie (64) beter bekend as ‘Professor Pothole’ die lewe aandurf. Vaalweekblad het op 13 Mei by sy rondreisende kantoor in Piet Retief Boulevard gaan inloer. Hy is die operasionele hoof van die Palms slaggat herstelveldtog wat deur die Palms Mall, Just …

VANDERBIJLPARK. – As jy iets doen, doen dit met oorgawe.
Dit is hoe Allan Fourie (64) beter bekend as ‘Professor Pothole’ die lewe aandurf. Vaalweekblad het op 13 Mei by sy rondreisende kantoor in Piet Retief Boulevard gaan inloer.
Hy is die operasionele hoof van die Palms slaggat herstelveldtog wat deur die Palms Mall, Just Carz, Parkview Auto South, Ultimate Auto en Active Auto geborg word.

Of dit nou modelvliegtuie is wat hy bou of motorfietse of ou voertuie is wat hy restoureer is daar net een manier… die regte manier. Dinge word op ‘n wetenskaplike manier gedoen of jy los dit. Daar word geen kortpaaie geneem nie. Wanneer hy oor die passies in sy lewe begin praat trek hy soos ‘n renmotor sonder remme weg. Jy kan selfs die taal kies, Engels, Afrikaans, Zulu, Xhosa of Fanagalo hy is al dié tale magtig.
“Die somer is eintlik die beste tyd om slaggate reg te maak. Die regte manier is om in blokke die slaggate reg te maak, anders ry die voertuie die teer uit en die reën verspoel dit. Mens moet tussen 25mm en 30mm diep grou en die gat met ‘n lugblaser skoonmaak, nie met ‘n besem nie. Daarna word kante warm gemaak met ’n ‘torch’ en die teermengsel word dan ingesit, warm gemaak en vasgestamp,” vertel hy.
Hy lag uit sy maag uit en begin dan peins wanneer hy gepols word oor die hoeveelheid slaggate wat hy al herstel het.
“Hel dis nou ‘n moeilike vraag. Ek dink ek herstel omtrent so 150 slaggate ‘n dag,” sê hy met ‘n breë glimlag.
Volgens Fanie de Jongh, die eienaar van die Palms Mall, filantroop en bekende sakeman, wat dié veldtog in 2015 begin het, word daar jaarliks meer as R120 000 spandeer om slaggate in Vanderbijlpark te herstel.
“Tegnies werk Allan vir die Emfuleni munisipaliteit maar ek betaal hom,” sê de Jongh tong-in-die-kies. Dit is juis hy wat grappenderwys vir Oom Allan sy bynaam prof. Pothole gegee het.
Almal wat vir Fanie ken sal getuig dat hy ‘n harde sakeman met ‘n hart van goud is. “Sy hart en beursie is altyd oop vir mense wat sukkel. Hy is ‘n streng besigheidman, maar ‘n goeie mens,” sê prof. Pothole.
Gedurende die Covid19-pandemie wat tans die werêld op sy knieë dwing, het hy en nog ‘n Gideons-bende weldoeners kos aan behoeftige gesinne en individue in die Vaaldriehoek versprei.
Tussen hom en Mike Woodroffe, die eienaar van Calsibrick, sny hulle op eie onkoste sowat 80 000m2 se gras per maand in Vanderbijlpark. “Die gras wat ons sny sal Emfuleni plus minus R100 000 ‘n maand kos. Maar ons doen alles uit die goedheid van ons hart. Ons mense en bates is hier. As ons dorp agteruitgaan gaan die mense wegtrek. Dit wil ons nie hê nie,” sê de Jongh.
Volgens de Jongh is hy tans besig met planne om ’n teer vervaardigingsfasilieteit te bou om materiaalkoste te verlaag.
So wanneer jy verby reuse oranje kegels en ‘n Palms trok ry, blaas gerus jou kar se toeter en waai vir prof. Pothole en sy span. Hulle doen jou ‘n helse guns.
https://www.facebook.com/fanie.dejongh.3/videos/10158235560799512/







