Geliefde prof. Dawid sterf tuis tydens inperking
'n Bekende in Vaaldriehoekse akademiese, veteraanmotor- en sportkringe, prof. Dawid Jordaan (65), is verlede week oorlede na ‘n lang stryd teen kanker.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende in die Vaaldriehoek se akademiese, veteraanmotor- en sportkringe, prof. Dawid Jordaan (65), het verlede week tuis beswyk na ‘n lang stryd teen kanker. Volgens sy vrou, Sonja, was hy die afgelope drie maande hoofsaaklik bedlêend maar sy is dankbaar dat sy hom in die bekendheid van hul eie huis kon versorg, eerder as dat hy gedurende die inperking alleen in ‘n hospitaalkamer moes lê.
Prof. Dawid, ‘n boorling van Ladismith in Natal, het sy hoërskooljare in Vanderbijlpark deurgebring en aan HTS Carel de Wet gematrikuleer. Na skool het hy ‘n graad in rekenaarwetenskap aan die destydse PU vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) verwerf. Hy het aanvanklik by die destydse Yskor begin werk en daarna as dosent by die Noordwes-Universiteit (NWU) aangesluit, waar hy sy nagraadse kwalifikasies tot op doktorale vlak verwerf het. Hy is op die ouderdom van 40 jaar ‘n professoraat aangebied en was buiten die NWU ook vir ‘n tyd lank aan die Universiteit van Qua Qua en Medunsa verbonde.
Prof. Dawid was onder andere ‘n adjunkdirekteur en later waarnemende navorsingsdirekteur aan die NWU se Vaaldriehoekkampus voordat hy einde verlede jaar met pensioen afgetree het. Mej. Annette Willemse, korporatiewe kommunikasiespesialis aan die NWU, beskryf hom as ‘n “regte gentleman en hartsmens”.
Buiten sy belangstelling in die akademie het prof. Dawid ook ‘n groot liefde vir veteraanmotors gehad. Hy was jare lank lid van die Vaal Ou Wiele-klub en ‘n mede-organiseerder van die gewilde “Wheels at the Vaal”-uitstalling wat jaarliks duisende mense na die universiteitskampus gelok het.
Sport was ook een van sy groot belangstellings: Hy het op die ouderdom van 50 sy eerste Comrades voltooi, waarna hy nog drie keer aan dié marathon deelgeneem het. Hy was ook ‘n lid van Harmony-klub, wat later Nedbank-atletiekklub geword het, en was etlike jare wedlooporganiseerder en voorsitter daarvan.
“Dawid was ‘n ongelooflike mens wat altyd tyd vir almal gehad het en gehelp het waar hy kon. Hy was ‘n groot gees in provinsiale atletiekkringe en gaan vir seker baie gemis word. As vriend en hardloopmaat gaan ek hom baie mis. Hy was vir baie van ons ‘n inspirasie, en sy deursettingsvermoë en vasbyt was ‘n voorbeeld vir almal,” sê Malie van der Walt, ‘n bekende langafstandatleet van die Vaaldriehoek.
Sonja, sy vrou, sê hul gesin gaan hom onthou as ‘n man van integriteit, ‘n mens met baie geduld en ‘n uitstekende luisteraar.
“Hy het min gepraat maar baie gedoen. Hy was iemand wat nooit sy eie beuel geblaas het nie, maar uit die boodskappe wat ek sedert sy dood ontvang het, is dit duidelik dat hy op sy stil manier diep spore in baie mense se lewe gelaat het,” sê sy.
Buiten sy vrou word prof. Dawid oorleef deur drie kinders, Sonet, Ben en René, sy skoonkinders en drie kleinkinders, wat die afgelope jare die middelpunt van sy bestaan was. Die begrafnisreëlings was ten tyde van publikasie nog nie gefinaliseer nie maar volgens mev. Jordaan sal dit weens die inperking ‘n private geleentheid wees.
*******************************************
Só WORD WYLE PROF. DAWID JORDAAN DEUR SY OUDKOLLEGA EN VRIEND, PROF. HERMAN VAN DER MERWE, ONTHOU:
As ek dink aan Dawid, dink ek aan iemand met ‘n lang asem wat dit so vreeslk geniet het om te hardloop en die wind deur sy hare te voel. Dit was daar waar hy vry kon wees, sy gedagtes vrye teuels kon gee en met nuwe inspirasie teruggekom het na só ‘n hardloop-sessie.
Die afgelope 11 jaar het ek die voorreg gehad om Professor Dawid Jordaan te leer ken as ’n toegewyde, lojale kollega maar ek dink meer aan aan hom as ‘n geliefde en gewaardeerde vriend, kollega en akademikus wat in sy tyd diep spore getrap het in my hart, die Fakulteit en Universiteit.
Sy kalm en hoflike hantering van sy kollegas en hoe hy as mentor opgetree het vir sy junior kollegas, sal my altyd bybly.
Sy lag word reeds deur ons almal gemis.
Bo-en-behalwe vir sy liefde vir hardloop, sal ek hom ook altyd onthou as ’n persoon wat trots was op sy werk en baie trots was op sy familie.
Sy geloof, volharding en deurgaans positiewe gesindheid onder die moeilike omstandighede van sy langdurige siekte was vir almal wat hom geken het ’n voorbeeld en inspirasie. Ons diepe meegevoel, gebede en rykste seënwense vergesel Sonja en almal vir wie hy lief was.



