
VEREENIGING. – Skaars vyf maande na Carin Janse van Rensburg haar man aan ‘n wrede dood moes afstaan, is een van haar blonde krulkop tweelingseuntjies met kanker gediag-noseer.
Jayvan Janse van Rensburg (2) het die vorige dag nog lekker saam met sy maatjies gespeel en die dag daarna begin kla oor sy beentjie wat seer is. Carin het aanvanklik gedink hy het dalk ‘n spier verrek, maar toe dit erger begin raak, het sy hom hospitaal toe geneem. Binne ‘n kwessie van vier ure kon hy nie meer loop nie. Die dokter het vermoed hy het ‘n abses of infeksie. Daar is verskeie toetse, sonars en skanderings gedoen, maar die beelde was effens onduidelik.
Die klein lyfie moes op 3 Januarie teater toe gaan, waar daar ‘n gewas in sy regterbeen gekry is. Na ‘n biopsie gedoen is, is Jayvan op 6 Januarie met beenkanker gediagnoseer. Hy is die dag daarna na die Wits Donald Gordon-mediese sentrum om verdere toetse te laat doen om te bepaal of die kanker versprei het.
Na Jayvan in-en-uit die teater was en na verskeie toetse, is daar bevestig dat die kanker nie versprei het nie. “Ek glo in die krag van gebed en ek is positief dat Jayvan gesond aan die anderkant sal uitkom,” sê sy.
Dit was vir Carin moeilik om Jayvan se boeties en sussies te vertel dat hy baie siek is, want skaars vyf maande gelede moes sy die nuus aan hul oordra dat hul pa oorlede is.
Carin se man, Anton, is gedurende ‘n gewapende rooftog op 12 Augustus 2015 by hul huis in Drie Riviere doodgeskiet. Die groep gewapende mans het twee van hul huiswerkers en hul seun wat in daardie stadium by die huis was, aangehou. Anton is by die oprit van hul huis geskiet, waarna die rowers weggejaag het.
Vroeër in 2015 het Vaalweekblad berig oor Carin en Anton wat ‘n jarelange hofsaak teen die Gautengse Departement van Onderwys gewen het na hul dogter, Chanté weens raaiselagtige omstandighede by haar laerskool geval het en ernstige kopbeserings opgedoen het. Chanté was in daardie stadium maar agt jaar oud. Jayvan se tweelingboetie Blake en sy boeties, Marco (28), Enrico (8), Tegan (7), Chanté (15) en Rulyn (12) ondersteun hom ten volle in die tyd en glo en vertrou hy gaan die stryd teen kanker wen.
Carin skryf elke week vir haar seuntjie, soos sy hom noem, haar pokkelpensie en haar kleine menselyfie, ‘n briefie op die Facebook-blad wat sy begin het. “Ek doen dit om die dae af te tel tot hy gesond is.” Sy het die blad, Support Jayvan Janse van Rensburg begin sodat ander daar buite vir haar seuntjie kan bid. “Baie dankie aan elkeen wat Jay in hul gebede opdra, ek weet God sal ons help deur hierdie tyd,” sê sy.
*Dokters en kenners is steeds besig om te besluit wat die beste behandeling vir Jayvan sal wees.



