Betaling sonder diens veroorsaak ongelukkigheid
VEREENIGING. - Groot ongelukkigheid heers in Wyk 45 nadat hulle nie deel was van burgemeester Simon Mofokeng se 90 dae diensleweringsplan nie.
VEREENIGING. – Groot ongelukkigheid heers in Wyk 45 nadat hulle nie deel was van burgemeester Simon Mofokeng se 90 dae diensleweringsplan nie.
Raadslede en inwoners in die Emfuleni-distrik was baie opgewonde toe dié projek aangekondig is, maar teen die 80ste dag was daar nog geen poging van die munisipaliteit aangewend om verbeteringe aan te bring in Wyk 45 nie. “Ons slaggate het inteendeel meer geword, minder straatligte werk, daar is meer water- en rioollekkasies en die gras word nie gesny nie,” sê DA-raadslid Elize Aucamp.
Volgens raadslid Aucamp is daar reeds telkemale navrae gedoen oor wanneer daar aksie geneem gaan word oor die klagtes en die antwoord bly dieselfde. “Elke keer sê hulle vir my ons moet wag tot daar materiaal beskikbaar is.” Gedurende die 90 dae wat die diensleweringplan plaasgevind het, is daar nie minder as 270 slaggate gerapporteer nie. “Die grondpaaie by die kleinhoewes moet geskraap word, maar elke keer wat ons die straatname deurgee van die paaie wat geskraap moet word, dan is die masjien glo stukkend,” sê raadslid Aucamp.
Gedurende die 90 dae is die kanaal in Langrandweg wel skoongemaak, maar nie omdat dit deel was van die 90 dae diensleweringsplan nie.
“Die gemeenskap het self ingespring en een kilometer skoongemaak, aangesien die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se beloftes sedert 2013 om dit skoon te maak, nooit gerealiseer het nie.”
Wat egter die meeste kommer wek is dat daar verwag word van inwoners om getrou elke maand hul munisipale rekeninge te betaal, maar wanneer dit by die basiese dienslewering kom, staan hul heel agter in die ry. “Dit wil vir my voorkom asof die 90 dae diensleweringsplan ‘n droom was wat in ‘n nagmerrie ontaard het,” sê raadslid Aucamp.



