The Voice deelnemer sing in Potch

“Ek kom van Stilfontein, dit is waarom almal in die kompetisie my Stilfontein noem,” lag Almur Marais, net voor hy by die West Acres inkopiesentrum opgetree het.

“Ek kom van Stilfontein, dit is waarom almal in die kompetisie my Stilfontein noem,” lag Almur Marais, net voor hy by die West Acres inkopiesentrum opgetree het.
Almur se ouma en oupa, Tienie en Ria Nagel is vir meer as 50 jaar inwoners van Potchefstroom. Almur is tans ’n deelnemer aan The Voice, ’n sangkompetisie wat op M-Net te sien is.
Almur se eerste herinneringe van musiek is sy pa wat vir hom en sy broer aan die slaap sus.
“Hy het met ’n kitaar in die kamer kom sit en vir ons liedjies gespeel tot ons aan die slaap geraak het. Ek dink dit is waar my liefde vir musiek gekweek is,” vertel Almur.
Dié 26-jarige kunstenaar het op die ouderdom van 16 sy eerste kitaar gekry, maar eers toe hy 17 jaar oud was, regtig begin speel.
“Ek het leer speel omdat ek besef het hoe baie meisies daarvan hou,” lag Almur.
Die gemaklikheid waarmee hy oor musiek praat wys dat daar ’n groot passie vir musiek is. Tog is Almur op die realiteit ingestel. Hy laat nie dat sy vordering in dié kompetisie na sy kop toe gaan nie.
“Ek moet my ambag as passer en draaier by Soltech voltooi. As dit so maklik was soos net ’n keuse maak, dan sou ek altyd musiek kies,” sê hy ernstig.
Maar soos Almur sê, die rekeninge moet nog steeds betaal word. Hy het in 2009 New Dawn begin, ’n band saam met wie hy gespeel het. Nadat hulle opgebreek het, het hy vir ’n ruk lank nie musiek gemaak nie.

almur 3
“My vriende het op tye terwyl ons gebraai het die kitaar vir my weggesteek. Ek het seker net so drie liedjies geken wat ek aanhoudend gespeel het,” vertel hy met ’n glimlag.
Maar in 2012 het ’n vriend hom genader om saam met hom vir Robbie Wessels en Bok van Blerk te open by die Clover tent van Aardklop. Dit is hier waar Net na Vier gebore is.
“Die verstandhouding was van die begin af dat my vriend sou ophou speel sodra sy kind gebore is. Ons het lekker saam musiek gemaak vir nege maande,” vertel hy.

almur 5
Van sy ervaring op The Voice vertel Almur van die angs wat amper die kompetisie vir hom beëindig het.
“Die senuwees het bietjie gepla, nadat ek die eerste noot gesing het, het ek besef ek moet nou myself begin bymekaar kry. Ek het net asem gehaal, my oë toegemaak en verder gesing. Toe ek my oë oopmaak het Karen Zoid haar stoel omgedraai. Dit was ongelooflik, sy is een van my helde. Toe ek terug in die hotelkamer kom het ek net plat op die vloer gaan lê. Ek was uitgeput maar gelukkig, ek onthou dat ek nog gedink het dit moet seker wees hoe dit voel om in die hemel te wees,” vertel hy.
Volgens Almur kon hy nie vir ’n beter afrigter in die kompetisie gevra het nie. Hy wil soveel as moontlik by haar leer sodat sy Almur se stem kan verfyn.
“Ek gaan soos ’n spons wees saam met Karen, sy is doodeenvoudig die toonbeeld van Rock en Roll. So plat op die aarde, jy kan sien sy het hard gewerk om te kom waar sy nou is,” vertel hy.

almur 2
Almur bedank almal, veral die Stilfonteiners, wat hom tot dusver ondersteun het. Binnekort begin die stem- rondtes waar die publiek vir Almur kan stem om deur te dring na die volgende rondtes van die kompetisie. The Voice kan Sondae aande tussen 17:00 en 19:00 op M-Net, kanaal 101 gesien word.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button