Pan Pan vir Vaal seilers op see – VIDEO
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende Vaaldriehoekse seiljagvaarder, mnr. Herbert Karolius en agt bemanningslede het ‘n paar ysingswekkende oomblikke in die Oos-Kaapse seewaters beleef, toe die stuurvin (rudder) van Rocket, ‘n 55-voet lange seiljag, onlangs in stormsee beskadig is. Die voorval het op Dinsdag 5 April plaasgevind, twee dae nadat die span vanuit Kaapstad na Durban vertrek …
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende Vaaldriehoekse seiljagvaarder, mnr. Herbert Karolius en agt bemanningslede het ‘n paar ysingswekkende oomblikke in die Oos-Kaapse seewaters beleef, toe die stuurvin (rudder) van Rocket, ‘n 55-voet lange seiljag, onlangs in stormsee beskadig is.
Die voorval het op Dinsdag 5 April plaasgevind, twee dae nadat die span vanuit Kaapstad na Durban vertrek het om die boot in Durban vir die Vasco Da Gama-wedvaart eerskomende naweek, te posisioneer.
Karolius het ‘n pan-pan noodsein uitgestuur en owerhede ingelig dat die stuurvin van die boot ‘n onderdeel verloor het en indien die stuurvin sou loskom en uitval, die boot binne minute vol water sou loop en sink.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het verskeie stasies langs die kuslyn op bystand geplaas maar kon as gevolg van die onstuimige see en hoë golwe, nie ‘n reddingsboot met veiligheid lanseer nie. Rocket was steeds seilbaar en daar was nie onmiddellike lewensgevaar nie.
Die Transnet Hawens Outoriteit, Maritieme seereddings-koördinasiesentrum, Telkom Maritieme radiodiens en die Suid-Afrikaanse Lugmag het tot die reddingsoperasie toegetree en helikopters is op bystand geplaas.
‘n Noodsein is aan alle bote in die omgewing uitgestuur en hulle is aangemoedig om hulp te verleen indien die situasie sou versleg. Rolspelers het deurnag met die bemanning gekommunikeer en die boot se vordering dopgehou.
Teen 4.30 op Woensdag 6 April, het ‘n moeë en verligte span St Francis Baai pootuit, sopnat en koud gehaal.
Die onderdeel is die volgende dag vervang en Rocket kon voortseil, maar die hawemond was toegespoel en die seiljag is vir drie dae in die hawe vasgekeer – met min weerstand van bemanningslede, wat die gasvryheid van die NSRI-span en dorp se “watergate” behoorlik geniet het. Rocket het uiteindelik op Dinsdag 12 April vanuit St Francisbaai vertrek maar verdere drama het op die bemanning gewag. Twee bemanningslede het naelskraap ernstige beserings vrygespring toe die boot se hoofseil onverwags op die laaste been na Durban, deur ‘n rukwind van posisie in ‘n teenoorgestelde posisie geforseer is. Karolius se voorarm het ‘n harde stamp weg toe hy ‘n tweede sweepslag wou keer, wat die boot gevaarlik heen en weer geslinger het. Sy regter voorarm is moontlik gekraak. Bemanningslid Marie Bester het ook verskeie kneusplekke in die proses opgedoen. Die seiljag en bemanning het uiteindelik op Donderdag 14 April in Durban aangekom



