
‘n Student se been is Saterdagmiddag omstreeks 13:00 deur ‘n staalpen van ’n eiendomsagent se bord deurboor.
Liebenette Liebenberg (18), ’n Puk atleet en onderwysstudent se Saterdag het doodnormaal begin, maar toe skielik baie skeef gedraai.
Volgens haar wou sy en haar vriende die middag Mooirivier Mall toe gaan. Sy het besluit om blare weg te hark.
“Ons wil ’n kuierarea daar maak en ek het besluit om te begin skoonmaak.”
Sy kon nêrens ’n hark kry nie en het ’n eiendomsagent se bordjie net buite die erf gesien en gedink dit sal die perfekte plaasvervanger wees.
“Ek het eers die bordjie soos ‘n hark probeer trek, maar dit het nie gewerk nie. Daarna het ek die bordjie soos ’n kruiwa gestoot wat baie goed gewerk het,” vertel sy.
Terwyl sy besig was het die bord in die grond vasgesteek. Volgens Liebenberg het sy geval en ’n effense drukking in haar been gevoel. Toe sy regop kom het sy eers vir haarself gelag, maar nadat sy die pen deur haar been gesien het, het sy geskrik.

“Ek het net gegil. My vriendin het kom kyk en toe ons ander vriende gaan wakker maak.”
Haar vriende het dadelik die provinsiale ambulans geskakel.
“Na 30 minute het die ambulans eers daar opgedaag en toe weet nie een van die paramedici wat om te doen nie,” vertel sy.
Uiteindelik het daar nog ’n ambulans opgedaag, maar volgens Liebenberg het hulle ook nie geweet wat om te doen nie. Die eienaar van die huis waar sy huur het besluit om Mooirivier Beskerming te bel, wat ’n samewerkingsooreenkoms met ER24 het.
“Toe ER24 daar aankom was ons binne 10 minute op pad hospitaal toe,” vertel sy.
Volgens haar was sy van 14:30 tot 21:00 by die Potchefstroom Hospitaal. Daar was glo nie plek vir haar by ongevalle, waar sy in die gang op ’n bed moes lê nie.
Sy is uiteindelik gehelp deur ’n dokter wat vir haar gesê het dit is nie nodig om teater toe te gaan nie.
“Sy het gesê dat sy die pen kan uittrek. Ek het net vir haar gesê dit is reg, kom ons doen dit. Die dokter was regtig baie goed,” sê sy.
Die paal het haar fibula met 5mm gemis en is deur die voorste spier tussen die twee kompartemente van haar kuitspiere deur en anderkant uit. “As die pen deur my bobeen of deur my lyf gegaan het, kon ek binne 30 minute dood gewees het. Die Here het my regtig beskerm,” vertel sy. Liebenberg het die paal wat haar been deurboor het, na Anette vernoem. Dit is die naam van die eiendomsagent op die bord.




