CommunityPhoto Galleries
Bekering bring blydskap in die hemel
Lees Lukas 15:1-32: Toe Jesus ‘n vriend van tollenaars en sondaars geword het en daarom saam met hulle geëet het, het Hy daarmee vir ons die liefde van God vir gebroke en uitgeworpe mense getoon. Omdat die Fariseërs ontevrede was omdat Hy met onrein sondaars gemeng het, het Hy drie gelykenisse vertel om die liefde …

Lees Lukas 15:1-32: Toe Jesus ‘n vriend van tollenaars en sondaars geword het en daarom saam met hulle geëet het, het Hy daarmee vir ons die liefde van God vir gebroke en uitgeworpe mense getoon. Omdat die Fariseërs ontevrede was omdat Hy met onrein sondaars gemeng het, het Hy drie gelykenisse vertel om die liefde en vergifnis wat die hemelse Vader vir sondaars aanbied, te verkondig. Met die gelykenisse van die afge- dwaalde skaap, die verlore penning en die verlore seun, wou Jesus leer dat daar blydskap in die hemel kom oor een sondaar wat tot bekering kom en dat almal daaroor vrolik en bly moet wees. Die Vader tree op soos die man wat honderd skape gehad het en die een verdwaalde gaan soek. As hy hom vind, dra hy hom op sy skouers terug na die ander toe. Dan nooi hy sy vriende en bure uit om saam met hom fees te vier oor die skaap wat weg was, maar weer gevind is. Die Vader tree ook op soos die arm weduwee wat net tien muntstukke gehad het. Toe een wegraak, steek sy ‘n lampie op en vee die huisie uit om die muntstuk te vind. Agterna is sy en haar vriendinne en buurvroue baie bly om- dat die muntstuk gevind is. Die hemelse Vader het Jesus gestuur om sondaars wat verlore is, te soek en te verlos (Luk 19:10). As ‘n sondaar gevind word en tot bekering kom, is daar groot vreugde in die hemel. Die Vader wag op die terugkoms van ‘n afgedwaalde, vervreemde sondaar soos die man in die gelykenis wat sy berouvolle seun met vreugde tegemoet gehardloop het en met ‘n hartlike soen volkome verge- we het. Toe word daar feesgevier met die vetgemaakte kalf, want die seun wat dood was, het weer lewendig geword, hy wat verlore was, is gevind. As jy dalk van God en sy gebooie afgedwaal het, kan jy deur die diep waters van bekering en skuldbelydenis terugkeer na jou hemelse Vader toe. Daar sal oor jou feesgevier word in die hemel! Diegene wat koud staan teenoor die redding van sondaars, kan langs die weg van bekering opgeneem word in die liefde en vreugde van die Vader en hulle saam verbly wanneer ander deur Jesus gesoek en gevind word (Luk 15:32). Gebed: Dankie, Here, omdat U my ook gesoek en gevind het en ek deur die offerdood van Christus vergifnis van sonde ontvang.



