CommunityLocal newsNewsNews

Motorman Willie se plek langs renbaan is leeg

VANDERBIJLPARK. - ‘n Bekende inwoner van die dorp en veral geliefd in Vaaldriehoekse motorsportkringe, mnr. Willie Smith, is op 5 Junie in die ouderdom van 70 jaar oorlede.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende inwoner van die dorp en veral geliefd in Vaaldriehoekse motorsportkringe, mnr. Willie Smith, is op 5 Junie in die ouderdom van 70 jaar oorlede.
Willie is op 15 Mei 1946 in Skotland gebore en het toe hy drie maande oud was, per skip saam met sy gesin na Suid-Afrika verhuis. Hy het in Vanderbijlpark grootgeword en sy skoolloopbaan hier voltooi voordat hy hom in 1964 as sweiser bekwaam het.
Willie het sy loopbaan by die destydse Fidelity Guards voortgesit en hom in die 25 jaar wat hy aan die onderneming verbonde was, opgewerk tot takbestuurder in Vanderbijlpark.
Hy het daarna sy eie onderneming, Vaal Car Safe Centre, in Edison-boulevard geopen. Willie was ook etlike jare aan Ultraspray en aan Wessels en Van Tubbergh Service Centre verbonde.
Willie was ‘n groot ondersteuner van motorsport en het die laaste 52 jaar totdat hy te siek geword het, nie ‘n enkele byeenkoms misgeloop nie. Hy het deur die jare so ‘n instelling by Ultimate Raceway se baan geword dat die plek waar hy altyd gesit het, al as “Willie’s corner” bekend gestaan het.
“Sy mensekennis was meesterlik. Hy het almal met wie hy te doen gekry het, se harte aangeraak. Sy plek by ons is leeg. Hy sal met groot verlange deur al sy familielede en vriende gemis word, maar veral deur sy vrou Marie, wat vir 45 jaar aan sy sy was en hom ook in die laaste paar jaar met sy siekbed bygestaan en ondersteun het,” sê ‘n woordvoerder van die familie.
Willie word ook oorleef deur sy seun Dean, dogter Yolanda, skoondogter Charné, skoonseun Bertie en vyf kleinkinders.
Willie se verassingsdiens is op 9 Junie deur ds. Louis Ries van die NG Vanderbijlpark Moedergemeente waargeneem.
“As familie wil ons baie dankie sê vir al die omgee en ondersteuning wat ons deur hierdie moeilike tyd van so baie mense ontvang het. Elke oproep en boodskappie beteken baie vir ons,” sê die familiewoordvoerder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button