CommunityLocal newsNewsNews

Vuil, vuiler, Vuildriehoek?

SASOLBURG. - Anglo Coal het onlangs goedkeuring gekry om hul New Vaal-steenkoolmyn aan die oewer van die Vaalrivier met nog 4 000 ha (sowat agt rugbyvelde) uit te brei.

SASOLBURG. – Anglo Coal het onlangs goedkeuring gekry om hul New Vaal-steenkoolmyn aan die oewer van die Vaalrivier met nog 4 000 ha (sowat agt rugbyvelde) uit te brei. Maar wat behels dit vir inwoners van die Vaaldriehoek, siende dat die omgewing rondom die Vaalrivier ernstig daardeur geraak gaan word.
Die omgewingsimpakstudie wat deur Golder and Associates gedoen is, toon dat die Vaalrivier, wat een van die Vaaldriehoek se groot toeriste aantreklikhede is, beslis negatief deur dié myn beïnvloed gaan word. En dit is nie al nie. Systrome van die Taaibospruit en Vaalrivier gaan oor die grond en 36 persent daarvan is met mielies en sojabone beplant. Volgens omgewingskonsultante sal daar spesiale maatreëls getref moet word om die R59 wat naby die myn se uitbreiding verbyloop, te verstewig omdat dit beskadig kan word wanneer dinamiet geskiet word.
Inwoners van Vaalpark en Zamdela gaan glo die ergste deur die lugbesoedeling geraak word weens die oopgroef bedrywighede. Besoekers aan die Emerald Resort & Casino en inwoners van Vaalbank en Vaalpark sal die mynboubedrywighede soos mynhope, van hul voorstoep kan sien. Wat nog meer kommer wek is twee plantsoorte wat in dié area voorkom. Die Afrika-aartappel en die gifbol, is op die Wêreldbewaringsunie se rooidatalys. Daar is ook 24 verskillende voëlspesies in die gebied gedokumenteer, onder meer bedreigde spesies soos grasuile en sekretarisvoëls.
Die hoofbestuurder van die New Vaal-steenkoolmyn, Johan van Schalkwyk, sê die maatskappy is bewus van die sensitiewe aard van die gebied, maar het sedert 1985 nog nooit enige negatiewe omgewingsvoorval gehad nie. In die motiveringsdokument sê Anglo Coal die steenkoolmyn is noodsaaklik omdat Lethabo-kragstasie tot 2044 brandstof nodig gaan hê. Dié kragstasie is in 1990 in gebruik geneem en is aanvanklik gebou om net vir 40 jaar krag op te wek.
Volgens Moeketsi Mofokeng, woordvoerder van Anglo Coal, het Eskom daarin geslaag om dié kragstasie se “lewe” met nog 14 jaar te verleng. Hy het ook gesê dat sowat 1 500 werksgeleenthede geskep sal word met die nuwe uitbreiding.

 

Die bekende Lethabo-kragstasie.
Die bekende Lethabo-kragstasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button