Johan de Lange skryf:
Hi Almal
Ek besef ek is nou onprakties, maar soms dink ek die mensdom staar hom blind teen wat is sonder om te vra wat kon gewees het, of dalk meer prakties, wat behoort te wees.
Van kleinsaf is ons gebombardeer met die hiërargie van die samelewing.
Ons moes leer wie is die skoolhoof, die dominee, die dokter, die prokureur en dan natuurlik die politici. Die ministers en die Presidente. Die generaals en die superryk mense van die samelewing asook ander belangrike mense. Mense wat beter was as ons.
Dis aan ons verduidelik dat ons hierdie hele armade belangrike mense moes vereer en bewonder en navolg.
Mettertyd egter het ek agtergekom dat hierdie sg. elite baie dikwels voete van klei gehad het.
My ikoniese wegbreek-oomblik van konvensionele denke het gekom toe die NG Kerk in 1990 by Hunters Rest na ‘n langnaweek se beraad uitstap in die wêreld en skielik verklaar dat Apartheid nou sonde is.
Nadat hulle vir jare Apartheid uit die Bybel regverdig het, verander hulle toe byna oornag hulle standpunt.
Op daardie oomblik het die skille van my oë afgeval. Die groot manne was toe nie so groot nie.
Hulle was eintlik maar die navolgers van internasionale druk en politieke druk, al was hulle die leiers van die grootste susterskerk in SA. Die “Manne van God” was toe maar net mense wat geswig het onder die werklikhede van die era waarin hulle geleef het.
Julle mag dalk, soos ek, saamstem met hulle nuwe denke sedert 1990, maar die punt is dat hulle vir jare die Bybel op een manier vertolk het en toe redelik vinnig in hulle spore omgedraai het en hulle interpretasie verander het.
Nou watter interpretasie was nou reg, die interpretasie vanaf 1948 tot 1990 of die een daarna??
Sedertdien het baie dinge verander, seksuele vryheid, aanvaarding van homoseksualisme en vele ander kleiner veranderinge.
Wat is my punt?
My punt is dat die wêreld [en die Kerke] beheer en regeer word deur brose, onstabiele, dikwels bang en onvolwasse mense wat hulle seile sal span na die wind.
Ons ken almal stoere NP politici wat na onafhanklikheid skielik vir die ANC gestaan het en gewerk het. Selfs ministers geword het in die ANC kabinet.
Big deal, beginselvas en sterk en dapper en navolgenswaardig.
Wat van sommer net onbetroubaar, onvoorspelbaar en oneerbaar?
My verdere punt is dat dit ideaal sou wees as ‘n individu of groepe mense met insig en wysheid elke land op aarde sou regeer. Na hulle opinies sou ek graag luister.
Pipe dream, ek weet, maar dis die ideaal.
Ek weet ek mors my tyd, want dinge werk nie so nie.
Die rede waarom dinge nie so werk nie is waarskynlik omdat die leuen regeer. Of die duiwel. Of Satan of wie hy ookal genoem word.
Ek dweep nie, ek sê net die mensdom is van valsheid aanmekaargesit.
En as julle nou sê ek is negatief, verwys ek julle net na al die misdaad en wanbestuur in SA, maar ook oor die hele wêreld.
Verder sê ek ook die vlak waarop sosiale en politieke probleme hanteer word is die vlak van manipulasie en konkel en slinks onderhandel.
“Transparency” is seker een van die meer lagwekkende woorde in die polities-korrekte woordeboek.
Ek is nie bitter nie, ek kyk maar net nuus en lees die media. Ek kyk na ons land en selfs na die res van die wêreld met sy probleme, ISIS, Sirië, Noord Korea, Rusland met Putin, Oekraine, Soedan, Kongo, Zimbabwe ens. ens.
Dit bly vir my tragies en verstommend dat die besluitnemers van die wêreld op so ‘n onvolwasse emosionele vlak beweeg.
NêRENS op aarde is oorlog onafwendbaar nie.
ELKE oorlog het ‘n aggressor. Indien elke aggressor die wapens neerlê en begin werk aan die stukkie wêreld om hulle, sal alles oornag verander
Wapens neerlê het selfs ‘n naam. Wapenstilstand. Daarna word dit vrede.
En weet jy wanneer kom daar vrede? Wanneer die klomp sotte wat die oorlog begin het moeg raak vir oorlog. Dalk het hy tog uiteindelik gekry wat hy wou hê [nes ‘n kind] of dalk het hy verloor [nes ‘n kind]
Net jammer die prys van hierdie oorloë is miljoene menselewens, onnoembare pyn en biljoene dollars.
Maar vrede sal nie gebeur nie want mense is emosioneel, irrasioneel, inkonsekwent en onlogies.
Daarom, liewe kollegas, het ek nie respek vir politici nie. Want hulle is in beheer maar dikwels emosioneel, irrasioneel, inkonsekwent en onlogies asook onbetroubaar en oneerlik. Voeg daarby korrup en onvoorpelbaar en jy het die moderne politikus.
Trump is nog Narsisties ook. Of is dit narsisisties? Lees maar sy biografie, “The Truth about Donald Trump”. Piet wanneer kry ek my boek terug?
O hoe fantasties sal moeder aarde gewees het as alle politici eerlik en volwasse was, en natuurlik alle mense ook.
Nou weet julle hoekom ek nie respek het vir die slim ouens se opinies nie, want dit verander soos die weer, wanneer dit hulle pas.
Gee my die wetenskap wat jy kan meet en tel. Ten minste kan jy met rede en logika iets bewys en verbeter.
Politici kan baie by die wetenskap leer.
Ek verstaan ek is ‘n tegnokraat.
Groete
Johan



