Retha Fitchat
VEREENIGING. – “Vergiftiging is ‘n geval van lewe en dood. Moenie kanse vat met jou geliefde vier-voetige gesinslede se lewens nie. Borstol gaan NIE ‘n hond red van Two-Step vergiftiging nie!”
Só sê ‘n bekende veearts, dr. Michael Ferreira van die Drie Riviere Dierekliniek, na aanleiding van ‘n berig in ‘n onlangse Vaalweekblad, waarin ‘n honde-afrigter, Suzette Hoch, gesê het honde wat met Two Step vergiftig is, kan deurgehaal word met Borstol. Sy sê sy het deur die jare reeds verskeie honde danksy dié hoesstroop gered. Dr. Ferreira stem egter nie saam nie.
“Die enigste ding wat jou hond of kat ‘n kans op oorlewing sal gee as hy met Two-Step vergiftig is, is onmiddellike veterinêre sorg, waartydens ‘n wetenskaplik bewysde teenmiddel toegedien kan word. Die gif werk ontsaglik vinnig op die liggaam se senuweestelsel in en indien dit nie spoedig behandel word nie, lei dit gewoonlik tot die dood,” sê hy.
“Ons eerste aksie met behandeling behels om die hond te laat probeer opgooi, maar selfs al kry mens gif uit die maag uit, is daar dikwels reeds heelwat wat in die liggaam geabsorbeer is. Vir dié rede moet daar ‘n teenmiddel toegedien word wat slegs deur ‘n veearts toegedien behoort te word, om die gif teë te werk. Indien die teenmiddel nie korrek binne-aars toegedien word nie, kan dit self egter ook nadelige gevolge vir u troeteldier hê. Ongelukkig is opgooi en die toedien van geaktiveerde houtskool (activated charcoal) nie voldoende om die gif wat reeds in die liggaam is, teë te werk nie. Oormatige speekselvloei en erge diaree wat ook deur die gifstof in diere veroorsaak word, lei ook tot ernstige ontwatering en elektrolietversteurings. Daarom is binne-aarse vloeistowwe ook baie belangrik in die suksesvolle behandeling van ‘n vergiftigde dier,” verduidelik hy.
Hy sê voorts daar is geen bewyse dat Borstol enigsins die Two-Step gif (‘n karbamaat-gifstof), kan teëwerk nie. Die hoë alkohol-inhoud kan natuurlik ook baie gevaarlik wees. Borstol bevat 15% alkohol per volume, en om vir ‘n klein hondjie 100ml daarvan in te gee en 200ml vir ‘n groter hond, soos wat me. Hoch in Vaalweekblad se berig aanbeveel het, is hoogs gevaarlik.
“Ons beveel aan dat indien troeteldiereienaars enigsins die volgende tekens van vergiftiging by hul diere sien, hulle hul veearts so spoedig moontlik moet skakel: swakheid, slingerende loop, oormatige speekselproduksie, opgooi, diaree, spiertrillings onder die vel, pupille wat baie klein is (nie altyd teenwoordig in katte nie), koma en dood. Selfmedikasie met boererate gaan waarskynlik nie voldoende wees om jou geliefde troeteldier deur te haal nie.
“Skakel ons gerus by (016) 423 1104 indien u enige verdere vrae het of hulp benodig, of maak dadelik kontak met jou veearts as jy vermoed dat jou dier vergiftig is,” is dr. Ferreira se raad. Meeste veeartse het ‘n na-ure nommer waar hulle in sulke noodgevalle gekontak kan word.



