Volgens Craig Kapp se ma, Maureen, kan hy nie veel van die voorval onthou nie en doen sy ‘n beroep op enige ooggetuies om na vore te kom. Hy kan onthou die persoon se gesig wat hom die eerste keer bygedam het, maar toe hy weer wakker word toe is hy in Sebokeng-hospitaal.
Craig en sy vriende het by Highstreet Pub gekuier en was op pad na hul voertuig toe die voorval gebeur het. Volgens Maureen moes dit enige tyd tussen 02:30 en 03:00 gebeur het, want teen 03:30 was Craig reeds by die hospitaal.
Volgens een van Craig se vriende het hy op die grond gelê en opgehou om asem te haal. Hulle het kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op hom toegepas en met hom na die Mediclinic Vereeniging gejaag.

Met hul aankoms by die hospitaal het noodpersoneel oorgeneem om weer ‘n hartklop by Craig te kry. Die paramedikus het vir my gesê dat indien my seun ‘n minuut later daar aangekom het, was hy dalk nie meer met ons nie,” sê Maureen.
Toe Craig in ‘n stabiele toestand was, is hy na Sebokeng-hospitaal oorgeplaas. “Craig het ernstige kopwonde opgedoen, maar geen merk is sigbaar op die res van sy lyf nie,” sê Maureen.

Daar is intussen ‘n saak van aanranding, met die opset om ernstig te beseer, by die polisie aanhangig gemaak. Maureen vra dat enige persoon wat meer inligting oor die voorval het of dalk gesien het wat gebeur het, na vore sal kom. “Ek sê nie my seun is onskuldig nie, maar om so vêr te gaan is bietjie erg. Hy kon dood gewees het.”
Enige persoon met inligting kan Maureen by 074 259 5024 skakel. Sy sal diegene wat na vore kom met inligting se identiteit beskerm.



