Motorfietsryer sterf in botsing teen koedoe
Ooggetuie sien net hoe motorfiets en ryer deur die lug trek

Retha Fitchat
‘n Motorfietsryer het vroeër vanoggend op die R512 buite Lanseria in ‘n fratsbotsing teen ‘n koedoe gesterf.
Volgens Werner Vermaak, kommunikasiebestuurder van die nooddiens ER24, is paramedici vanoggend (30-4-2017) omstreeks 07:30 na die toneel ontbied, waar hulle die motorfietsryer, sy motorfiets en die dooie bok aangetref het.
By nadere ondersoek is gevind dat die motorfietsryer verskeie noodlottige beserings opgedoen het en dat hy reeds beswyk het. Die paramedici kon ongelukkig niks meer vir hom doen nie en hy is op die toneel dood verklaar.
‘n Ooggetuie wat die ongeluk sien gebeur het, het aan die paramedici gesê hy het gesien hoe die motorfiets en die ryer skielik deur die lug trek. Hy het egter nie geweet die motorfiets het teen die bok gebots nie. Dit was eers toe hy aftrek om hulp te verleen dat hy die bok aan die kant van die pad sien lê het.
Die Verkeersafdeling en Polisie ondersoek die toneel om te bepaal wat presies gebeur het. Dit is nie bekend of die koedoe uit aanhouding ontsnap het of wild in die landelike omgewing geleef het nie.



