News

Kosmiese skouspel tref Vaal stil-stil

‘n Kosmiese gebeurtenis het die Vaaldriehoek Donderdag, 15 Junie stil-stil getref, sonder dat veel mense daarvan kennis geneem het

 

Retha Fitchat

SASOLBURG. – ‘n Kosmiese gebeurtenis het die Vaaldriehoek Donderdag, 15 Junie stil-stil getref, sonder dat veel mense daarvan kennis geneem het.

Volgens mnr. Pierre Britz het hy Donderdagoggend net na 06:00 op pad werk toe vanaf Vaalpark, in die afrit na die R59 langs Naledi, iets buitengewoon in die lug opgemerk.

“Dit het soos ‘n hengse meteoriet gelyk. Dit was ’n hengse vuurbal met ‘n baie lang wit en oranje stert. Dit was baie naby en baie laag aan die aarde. Die vuurbal het in die omgewing van die Taaibosspruit in duisend stukke gedisintegreer. Dit was ongelooflik! Net soos in die flieks,” sê Pierre.

Hy sê die hele skouspel was binne ongeveer vier sekondes verby. Hoewel Pierre aanvanklik die enigste inwoner van die Vaaldriehoek was wat sy ervaring by Vaalweekblad gerapporteer het, het verskeie ooggetuies uit ander dele van die land op sosiale media vertel dat hulle ‘n soortgelyke “vlieënde voorwerp” gesien het.

Letitia Veltman van Fouriesburg in die Vrystaat skryf op RSG se Faceboek-groep Sterre en Planete dat sy omstreeks 06:00 die oggend ‘n groterige vuurbal gesien het wat oor hul plaas “spoed”. ‘n Minuut of so later kon mens ‘n duidelike “doef” soos ‘n ontploffing hoor, skryf sy.

Corné Breydenbach was om-en-by dieselfde tyd op pad na sy werk in Roodepoort toe hy iets soos ‘n meteoor in ‘n oostelike rigting sien beweeg het.

Die lig wat hy gesien het was groenerig, met ‘n stert wat soos “sparkles” gelyk het. Verslae is ook uit KwaZulu-Natal ontvang van mense wat sê dat hulle dit omstreeks dieselfde tyd gesien het.

Tim Cooper, direkteur van die Sterrekundevereniging van Suid-Afrika se afdeling vir komete en meteore, het intussen na videomateriaal van die gebeurtenis, wat deur paneelbordkameras vasgevang en deur belangstellendes aan hom gestuur is, gekyk en meen dit was beslis meteories. Hy verduidelik op Facebook dat die helderheid en disintegrasie van die vuurbal daarop dui dat dit moontlik ‘n fragment van ‘n asteroïed kon wees.

Die Sterrekundevereniging is besig met verdere navorsing om die presiese oorsprong van die vuurbal te bepaal. Vaalweekblad verneem graag of nóg inwoners dit gesien het en of iemand ‘n video of foto daarvan geneem het. Indien wel, is hulle welkom om dit te stuur na rfichat@media24.com of skakel Retha by 083 246 0523.

Opdatering:

  • ‘n Hele paar lesers het intussen laat weet dat hulle die fenomeen ook gesien het. Willie Els sê hy het dit dieselfde oggend, dieselfde tyd, vanaf die verkeerslig in Naledi in Vaalpark, gesien. “Ek het al dikwels verskietende sterre gesien maar hierdie was die grootste en duidelikste nog,” sê hy.
  • Queenie Goosen van Vanderbijlpark sê sy was ook op pad in die rigting van Sasolburg toe sy die “vuurblad en ligstreep” deur die lug sien trek het. “Dit was so groot, ek het vir my dogter gesê ek dink dis ‘n groot vliegtuig wat brand en val, maar sy het dadelik gesê sy dink dis ‘n meteoriet. Ek was bang dit val iewers op huise, maar ek verneem dit het in die lug verbrokkel en uitgebrand voordat dit die aarde getref het,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button