Streng reëls geld nou by Phoenix Park
Nuwe planne om besoekers en voertuie by Trimpark te beheer
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Phoenix Park, die munisipale ontspanningsgebied in SE2 langs Frikkie Meyer-boulevard, was die afgelope langnaweek ‘n toonbeeld van rus en vrede, in plaas van die toeloop van mense en voertuie wat voorheen normaalweg oor ‘n langnaweek hier geheers het.
Die rede is dat kort, swaar betonpale by verskeie plekke teen die grense van die park aangebring is sodat voertuie nie meer onbeperkte toegang tot binne-in die park kan kry nie. ‘n Groot kennisgewingbord wat besoekers verbied om ‘n oop vuur op die parkterrein te maak, harde musiek te speel of enige skade aan die perseel aan te rig, is ook opvallend in die park opgerig. Besoekers word ook verbied om hul voertuie op die terrein te parkeer en mag nie vuurwapens, alkohol of dwelmmiddels in die park inbring nie.
Volgens mnr. Phillip Nothnagel, DA-raadslid vir die gebied, is die betonpale en kennisgewingbord deur die Emfuleni Wyk 5 Inwonerskomitee aangebring danksy skenkings uit die gemeenskap. “Inwoners het lankal versoek dat daar opgetree moes word teen besoekers wat hulle aan drankmisbruik skuldig gemaak het en ‘n versteuring vir die hele gebied was. ‘n Groot, onbeheerde getal motors het die park se grasperke voorheen verniel en die gebied is gereeld in ‘n skokkende toestand agtergelaat. Vragte glas- en plastiekbottels en ander rommel moes al dikwels na vorige vierings deur die munisipaliteit verwyder word,” sê hy. Hoewel mnr. Nothnagel voorheen herhaaldelik geëis het dat die Emfuleni-munisipaliteit strenger wetstoepassing hier uitoefen, was die antwoord tot dusver dat die Verordeninge-afdeling (By-Laws) eers mag optree as daar behoorlike borde in die park opgerig is om aan besoekers kennis te gee oor die tipe gedrag wat ontoelaatbaar is. Noudat sulke borde opgerig is, gaan die Verordeninge-afdeling geen verskoning meer hê as daar nie teen oortreders opgetree word nie.
“Ons as inwoners wil die park rehabiliteer sodat dit weer veilig is vir mense wat met hul honde wil kom stap, ma’s met kleingoed in stootwaentjies, drawwers en enigiemand wat hier piekniek wil kom maak of deur die park wil wandel. Almal is welkom, solank hulle net by die reëls hou,” sê ‘n SE2-inwoner en een van die Wyk 5-komiteelede. Die Park is onlangs ook behoorlik skoongemaak en ou boomstompe en rommel is deur die onderneming The Rubble Brothers, in samewerking met die Golden Triangle Chamber of Commerce,weggery. Sowat 800 betonpaaltjies gaan in totaal om die park aangebring word. Die koste is R25 per paaltjie. Mnr. Nothnagel bedank sakelui en inwoners wat reeds ‘n bydrae gemaak het, en in besonder vir Calsibrick. Ander inwoners van die gebied wat ook bereid is om donasies te maak, kan dit inbetaal in die ‘Ward 5 Emfuleni Committee’ se bankrekening by Standard Bank, takkode: 051001, Autobank Plusplan rekeningnommer: 027829278.




