Regstappe kan volg oor vals gerug op Facebook
VANDERBIJLPARK. - “Oral waar mense my herken, word ek soos ‘n misdadiger behandel. Een vals post op Facebook het my lewe in ‘n nagmerrie verander.” Só sê me. Carli Fourie, ‘n 32-jarige vrou wat regstappe beplan teen die persoon wat haar onlangs op Facebook foutiewelik met kinderdiefstal of -ontvoering by ‘n plaaslike laerskool verbind het.
VANDERBIJLPARK. – “Oral waar mense my herken, word ek soos ‘n misdadiger behandel. Een vals post op Facebook het my lewe in ‘n nagmerrie verander.” Só sê me. Carli Fourie, ‘n 32-jarige vrou wat regstappe beplan teen die persoon wat haar onlangs op Facebook foutiewelik met kinderdiefstal of -ontvoering by ‘n plaaslike laerskool verbind het.
Me. Fourie sê sy was onbewus van die Facebook-inskrywing totdat iemand haar ingelig het dat ouers en kinders van Laerskool Emfulenipark op sosiale media teen haar gewaarsku is. Die inskrywing was toe reeds honderde kere deur ander Facebook-lesers gedeel, met die potensiaal dat duisende mense dit kon lees.
“Die effek van die vals post was vernietigend. Ek bedryf my eie onderneming van my huis af en moes aan al my kliënte verduidelik dat dit ‘n vals gerug was. Nou moet ek van vooraf hul vertroue terugwen. Ek is by ‘n Vanderbijlparkse winkelsentrum sowel as by ‘n plaaslike casino gevra om hul persele te verlaat omdat ek weens die Facebook- post herken is en as ‘n ongewenste persoon gebrandmerk is. Die ergste is dat selfs my eie uitgebreide familie nou met agterdog na my kyk,” sê sy. Volgens me. Fourie, wat in die Vaaldriehoek grootgeword het en tans aan die Rand woon, het sy sowat ‘n maand gelede by familie in die Vaaldriehoek kom kuier. Sy sê sy het die geleentheid ook benut om ‘n Emfulenipark-aansoekvorm vir ‘n graad nul-kind by die skool te gaan afhaal. “Ek het by ‘n dame in die kantoor toestemming gekry om na die klas te gaan om te sien hoe dit lyk. Op pad daarheen het ‘n man wat hom as ‘n polisieman aan my voorgestel het, my skielik gestop en ‘n hofdokument aan my oorhandig waarin ek beveel is om dadelik die skoolterrein te verlaat. Hy het my toe tot buite die perseel begelei,” sê sy. Kort daarna het ‘n foto van haar, wat skynbaar op Laerskool Emfulenipark se terrein deur ‘n ouer geneem is, soos ‘n veldbrand op Facebook versprei, saam met ‘n inskrywing dat ouers op hul pasoppens vir haar moes wees omdat
sy glo kinders wederregtelik van die skool af wou wegneem. “Die post was heeltemal onwaar, kwaadwillig en absoluut lasterlik. Ek gaan dit beslis nie hier laat nie,” sê sy. Hoewel sy nog nie seker is wie die oorspronklike Facebook- inskrywing versprei het nie, vermoed sy dit kan iets te doen hê met ‘n voorval, middel verlede jaar, toe daar kwaaivriendskap tussen haar en ander ouers van Emfulenipark oor ‘n private aangeleentheid ontstaan het.
“Ek was onder die indruk die onaangenaamheid was lankal iets van die verlede en het nie gedink iemand koester steeds ‘n wrok teen my nie.” Die voorsitter van Laerskool Emfulenipark se beheerraad, die prokureur mnr. Lourens Nolte, het by Vaalweekblad se navraag gesê die skool ken me. Fourie nie, en dra geen kennis van haar omstandighede en persoonlike lewe nie. Hy sê die Laerskool Emfulenipark volstaan dus met ‘n inskrywing wat op 18 Mei op Facebook geplaas is, naamlik: “Please ignore rumours about a lady at our school – it is untrue… Sharing or commenting could lead to civil action. All is well and our learners are safe.” Mnr. Nolte sê hierdie stelling is met die uitsluitlike doel geplaas om bekommerde ouers gerus te stel en verdere onnodige kommentare te stop. ‘n Private forensiese onderneming in Pretoria is nou besig om die inligting op sosiale media na te vors om te bepaal wie die Facebook-inskrywing geskep en versprei het. Me. Fourie het reeds ‘n klag oor die oorspronklike inskrywing by die polisie gelê en sy sê sodra die identiteit van die skepper daarvan bekend is, gaan sy en haar regsverteenwoordiger met amptelike regstappe begin. “Ek wil my naam skoon kry. Ek en my familie gaan ook ‘n openbare verskoning van die skuldige eis,” sê sy.



