Local newsNews

Vrou doen 172 wonde op na gesinshond haar aanval

‘n Vrou van KwaZulu-Natal herstel nog van die 172 gruwonde wat sy opgedoen het toe haar broer se Amerikaanse veghond, Tysen, haar aangeval en verskeur het.

Charlene Strydom (36), ’n finansiële adviseur, was op ’n sakebesoek in Pretoria en het by haar broer, Gerhard Stassen (30), en haar ma, Marinda (52), gebly.

Sy het by die huis gekom en eers aan die agterdeur geklop en toe haar stiefpa, wat alleen by die huis was daardie tyd, nie oopmaak nie, het sy na die voorkant van die huis beweeg.

Dit is toe dat Tyson haar uit die bloute aangeval het. Sy het aan Huisgenoot.com gesê hy het presies gemik na die slagare in haar nek, haar polse en die binnekant van haar bobene.

Charlene moes ná die aanval op Woensdag 31 Mei twee weke in die Steve Biko Akademiese Hospitaal deurbring. “Ek moet nog ’n veloorplanting aan die binnekant van my linkerbobeen ondergaan. Van die wonde, soos die een aan my kuit, was meer as 8 cm lank en meer as 2 cm diep. Altesaam 52 van die 172 wonde was ernstig en ek moet dit steeds elke tweede dag by die wondkliniek laat skoonmaak.”

Sy wonder steeds wat daardie dag skeefgeloop het dat Tyson haar aangeval het, want hy ken haar en het nog altyd met haar en haar kinders gespeel as sy daar kuier.

Een rede waaraan Charlene kan dink, is dat Tyson haar dalk nie herken het toe sy net na 18:00 daar aankom nie omdat sy die middag haarverlengings laat insit het. Nog ’n moontlikheid is dat die ander hond op die erf, ’n veghond-teef, op hitte was.

Hulle het die hond na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem, waar hy op aanbeveling van die organisasie van kant gemaak is.

Bron: Huisgenoot.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button