NewsNews

Man aangekla na hondjie se dood

VANDERBIJLPARK. - Fifi was nie maar net ‘n hond nie, sy was deel van die gesin. Om dié rede het ‘n paartjie besluit om amptelik ‘n saak aanhangig te maak teen die man wat hul viervoetkind raakgery en toe in ‘n sak weggooi het terwyl sy volgens hulle nog geleef en in geweldige pyn was.

Fifi, die nege maande oue pekinees van Riëtte Botha en haar verloofde, Eugene Botes, is egter later die dag dood.

Dié tragedie het op 3 Oktober by die Riverspray Estates afgespeel.
Omdat dit skoolvakansie was, het Eugene se 11-jarige seun Keane, en sy neef saam met die huishulp by die huis gebly. Die seuns is die vorige aand weer eens daarop gewys dat hulle versigtig moet wees en mooi na die twee honde, Fifi en Pieksie (albei pekinese) moet omsien.
Maar die lewe loop sy eie draaie.
Eiendomsagent, mev. Annalien Burger, wat kantore op die perseel het, het aan die deur geklop. Toe die huishulp die deur oopmaak hardloop Fifi uit tot in die Estate se straat.
Die seuns het probeer om haar agterna te sit, maar was te laat. Dit is toe dat Fifi onder die wiele van die Estate se tuindiens-bestuurder, mnr. Don Stone, se voertuig beland.
Die seuns is terug die huis in om Riëtte te probeer bel. Sy was egter in ‘n vergadering en kon eers na die derde probeerslag antwoord. Die seuns het aan haar gesê dat hulle intussen vir Eugene in die hande gekry het en dat hy op pad was. Hy werk egter in Germiston en sou eers oor ‘n uur tuis wees.
Toe die seuns weer uitgaan was die voertuig én Fifi skoonveld.
Mnr. Stone en mev. Burger het intussen gedink Fifi is dood. Albei het gedink dat dit ontstellend vir die kinders sou wees om die hondjie so te sien. Sy het ook voorgestel dat hy die bloed van die plaveisel moet afwas.
“Ek het saamgestem en so gemaak. Ek is self baie lief vir diere en wou nie die kinders verder ontstel nie. Ek het die hondjie, wat volgens my dood was, toe weggeneem,” het mnr. Stone Dinsdag in ‘n onderhoud aan Vaalweekblad gesê.
Toe Eugene na sowat ‘n uur opdaag, het hy mnr. Stone op die terrein gaan soek en gevra waar Fifi is.
“Hy het dadelik gesê dat hy jammer is oor wat gebeur het, maar dat Fifi dood is. Hy kon nie verstaan waarom ek haar wou hê nie.
“Hy het selfs aangebied om ons een van sy seun se pekinees-hondjies, wat toevallig ‘n werpsel gehad het, te gee,” vertel Eugene.
“Ek was in skok en omgekrap en het gesê ek soek nie ‘n ander hond nie, ek soek vir Fifi. Hy het toe gesê ek moet agter hom aanry.”
Eugene het hom gevolg tot naby die rivier op die Estate se terrein waar mnr. Stone toe na ‘n container gestap en ‘n sak opgetel het.
Hier verskil die twee mans se weergawe van gebeure. Volgens mnr. Stone het hy die sak opgetel en gesien Fifi beweeg. Volgens Eugene het mnr. Stone die sak opgetel en het Fifi verskriklik begin tjank.
“Dit was iets wat ek nie kan beskryf of ooit sal vergeet nie. Die sak was vuil en daar was baie bloed. Sy het getjank en ek het saam met haar gehuil,” vertel Eugene. Hy het dadelik met haar veearts toe gery.
Riëtte het hulle by die veearts ontmoet.
“Ek was geskok. Dit was nie my klein meisiekind wat ek ‘n paar ure terug in haar bedjie gesien lê het nie. Sy was in erge pyn en het aanhoudend getjank.”
Daar is hard probeer om haar te red, maar sy is later die dag dood.
Volgens die veearts se verslag was Fifi in skok, haar regterogie het uitgeval en het baie gebloei, haar pelvis was op twee plekke gebreek, haar regterfemur was op twee plekke gebreek en sy het noodlottige inwendige beserings en ‘n breinbesering gehad.
“Die honde is ons lewe. Sy was ons Fifilishious. Sy het net liefde geken en dit breek ons harte dat sy so seer en alleen in daardie sak moes lê,” sê Riëtte.
Die paartjie het by Riverspray se bestuur oor die voorval gekla, maar voel hlle het ‘n koue skouer gekry. Om dié rede het hulle besluit om so gou moontlik daar weg te trek.
Mnr. Stone was verlede Dinsdag nog nie bewus van die saak wat teen hom gemaak is nie.
“Ek het werklik gedink die hondjie is dood. Ek is self ‘n diereliefhebber en sou haar beslis veearts toe gevat het as ek gedink het sy leef nog.
“Ek besef ook elke hond het sy eie persoonlikheid. Ek het nie bedoel die een hondjie sal die ander net eenvoudig vervang nie. Ek het net baie jammer gevoel vir die gesin. Ek het aangebied om vir hulle ‘n hondjie te gee met die hoop dat dit hulle hartseer effens beter sou maak,” het mnr. Stone afgesluit.
* Vaalweekblad het met mev. Burger gepraat en sy het bevestig dat sy ook gedink het Fifi was dood.
Eugene Botes en Riëtte Botha van Vanderbijlpark. Hulle is baie lief vir hul honde-kinders en het nou regstappe geneem na Fifi se dood. Hier is hulle in gelukkiger dae saam met hul ander hondekind, Pieksie.

 

Mnr. Don Stone wat Fifi per ongeluk raakgery het. Hy is self lief vir diere en sê hy was onder die indruk dat Fifi dood is toe hy haar weggeneem het.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button