Kerke, skole en ouetehuise moet ligloop vir dié swendelaar
Die verdagte word selfs verbind met ‘n “Hoekie vir Eensames” waar alleenlopervroue en weduwees uit hul geld geswendel word

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ‘n Swendelaar wat vermoedelik reeds verskeie kerke, skole, ouetehuise en ander organisasies met ‘n goeie slap riem gevang het, is onlangs betyds uitgevang toe hy Vanderbijlpark se Vereniging vir Bejaardes geteiken het.
Volgens mev. Marietjie Collins, hoofbestuurder van die vereniging, het die man, wat homself as Magnus Rossouw bekendgestel het, onlangs op ‘n Sondagoggend die Siësta-versorgingsafdeling geskakel en voorgegee dat hy ‘n Sasolburgse boer is wat dringend vleis aan die ouetehuis wou skenk omdat sy koelkamer “opgepak” het. Hy moes glo dringend van die vleis ontslae raak.
Mev. Collins sê sy het die “arme boer” nogal jammer gekry oor die groot hoeveelheid vleis wat hy sou verloor, maar het aan hom verduidelik dat die ouetehuis nie sommer vleis van mense mag gebruik wat nie gestempel is en by slagpale geslag is nie. “Ek het voorgestel dat ons hom help om die vleis in ons koelkamers vir hom te berg, of selfs in ons kerk se koelkamer te hou tot Maandagoggend,” sê sy.
Die boer was so dankbaar dat hy dadelik nog verdere donasies aan die oord en kerk belowe het. Kort daarna het Siësta-personeel wat hulp aan die boer sou verleen, ‘n oproep gekry om te vra dat R395 se lugtyd vir hom gekoop en deurgeskakel of ge-SMS moes word. Die personeellid, mnr. Wagner, het dadelik lont geruik en mev. Collins oor dié verwikkeling ingelig.
Hulle het dadelik begin navraag doen en hul agterdog het gegroei toe hulle uitvind dat daar nie so ‘n boer of slagpale in die Sasolburg-omgewing was nie. “Gelukkig het ons kontak met boere in die omgewing en is die sogenaamde “mnr. Magnus Rossouw” gou as ‘n swendelaar ontmasker. Toe hy weer skakel, kon ons hom gou-gou inlig dat hy ‘n toets gedop het met ons! Sy foon is sedertdien morsdood. Skynbaar is die simkaart reeds verwyder en gebruik hy reeds ‘n nuwe nommer,” sê mev. Collins.
‘n Saak is by die SAPD aangemeld en daar sal gekyk word op wie se naam die telefoon ge-“Rica” is. Daar is later op Google vasgestel dat dieselfde man ook as Johan Botha of Boeta en Boetman Rossouw by verskeie swendelsake betrokke was. Hy gebruik vermoedelik verskeie selfoonnommers.
Hy word selfs verbind met ‘n “Hoekie vir Eensames” waar alleenlopervroue en weduwees uit hul geld geswendel word.
* Die man is blykbaar nie net in die Vaaldriehoek bedrywig nie. Potchefstroom Herald van 12 Augustus 2017 berig ook oor die modus operandi van dié swendelaar. Skole, welsynsorganisasies en kerke moet veral ligloop vir die man wat duidelik daarop uit is om mense uit hul geld en lugtyd te swendel.



