MooiVaal Media maak sakesentrum mooi
Koerantgroep help om sakesentrum te verfraai met groot nuwe vullishouer
Van Rijn Plein, die parkeerterrein in die sakesentrum agter Vaalweekblad en Ster se Vanderbijlparkkantore, was vir baie jare ‘n lushof met netjiese sypaadjies. Ongelukkig het dit die afgelope tyd baie agteruit gegaan omdat die munisipale asblikke nie die groot hoeveelheid afval – alles van bourommel, weggooipapier, kartondose en selfs restaurante se afvalkos – kon hanteer nie.
Dit het so onooglik begin lyk dat Thys Foord, MooiVaal Media se bestuurder, besluit het om plan te maak en die gemors te laat opruim. Hy wou sy personeel, kliënte en die algemene publiek nie langer aan dié onhigiëniese seer-oog blootstel nie.
Hy het dit oorweeg om nog asblikke te laat installeer (MooiVaal Media het voorheen reeds spesiale asblikke hier laat monteer), maar hy het uiteindelik besluit om ‘n groot “skip” van 1.2 m diep x 2.4 lank te laat bou en in die plein te laat plaas. Die houer het ‘n inhoudsmaat van 3 400 liter en sakeondernemings in die plein kan nou hul afval hierin stort, wat die gebied baie netjieser laat vertoon.
Nicky Jansen van Vuuren van Chilli Picnic Fotografie het MooiVaal Media se handelsmerk en Vaalweekblad en Ster se mashoofde aan die buitekante aangebring, en ekstra grafika met humoristiese boodskappe en foto’s bygevoeg om dit ‘n “warm-hart projek” en ‘n plesierige aanwins vir die omgewing te maak.
Munisipale vullisverwyderaars sal die inhoud van die nuwe rommelhouer gereeld verwyder. MooiVaal Media is tans ook besig om die bossies op die plein te bespuit en die tuine op die sypaadjies en middelmanne te verfraai.
“Ons hoop ander sakeondernemings in die sakesentrum sal ons voorbeeld volg en ook moeite doen om die gebied skoon en netjies te hou,” sê Thys.





