AfriForum loods klagskrif teen swak dienslewering
“Slaggate wat nie gevul word nie en straatligte wat nie werk nie veroorsaak ’n groot veiligheidsrisiko vir alle inwoners. Daarom is dit betreurenswaardig dat die munisipaliteit nie reageer wanneer daar versoek word dat hulle optree nie"
SASOLBURG. – AfriForum se Sasolburgtak het vroëer die maand ’n beswaarskrif teen die swak gehalte van dienslewering van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit geloods. Dít volg nadat inwoners van Sasolburg al vir ’n geruime tyd kla oor onder meer slaggate wat nie gevul word nie, lang gras op sy paadjies en onbeboude gebiede, straatligte wat nie werk nie en die vullisterrein wat in ’n haglike toestand is.
Die Sasolburgtak het reeds op 8 Februarie vanjaar ’n skriftelike klagte oor hierdie kwessies aan die munisipaliteit gestuur, maar tot dusver geen reaksie ontvang nie.
“Slaggate wat nie gevul word nie en straatligte wat nie werk nie veroorsaak ’n groot veiligheidsrisiko vir alle inwoners. Daarom is dit betreurenswaardig dat die munisipaliteit nie reageer wanneer daar versoek word dat hulle optree nie,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraal-streek.
Die tak het nou ‘n beswaarskrif geloods om inwoners se ontevredenheid oor hierdie sake te beklemtoon. Die klagskrif sal by die munisipaliteit ingehandig word.
Inwoners wat wil deelneem om druk op die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit te plaas om aandag aan swak dienslewering te gee, kan die beswaarskrif elektronies onderteken by https://tinyurl.com/y8sp23c9.
Minstens twee voertuie het die afgelope jaar al ernstige skade opgedoen toe dit in ‘n reuse-slaggat in Louis Bothastraat, Sasolburg, beland het. Dit is glo te wyte aan ‘n ondergrondse waterpyp wat ondanks herstelwerk elke keer weer aan die lek gaan. Dit verswak die teer en onderliggende grond sodat dit elke keer van vooraf uitgekalwe word en instort. Hoewel die Metsimaholo-munisipaliteit die slaggat al herhaalde kere probeer regmaak het, eis inwoners dat alle slaggate in Sasolburg en Vaalpark nou behoorlik herstel word.



