Veldmans se liefde vir plante lewer soet oes op
As jy met groen vingers en ‘n liefde vir plante gebore is, keer niks jou om ‘n top tuinier te word wat selfs tropiese vrugte in ‘n hoëveldse tuin kan kweek nie
Eerste publikasie: Vaalweekblad 21 Maart 2018
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – As jy met groen vingers en ‘n liefde vir plante gebore is, keer niks jou om ‘n top tuinier te word wat selfs tropiese vrugte in ‘n hoëveldse tuin kan kweek nie. Daarvan is Pieter en Marlené Veldman sprekende voorbeelde.
Wanneer jy aan die soet veselperskes smul wat Pieter en Marlené met jou deel, is dit moeilik om te glo dat dié tipiese laeveldvrugte uit hul eie tuin in Vanderbijlpark kom en nie van ‘n plaas in die trope nie.
Vaalweekblad het verlede jaar ook berig oor dié egpaar, wat met verskeie plante in hul tuin in CE4 eksperimenteer en tropiese vrugtebome vanaf die pit kweek. Verlede jaar kon hulle spog met 16 veselperskes aan hul boom. Dit is nou weer dratyd en die mango’s raak net al groter, mooier en soeter.
“Hierdie jaar was die vrugte uitsonderlik groot. Daar was ongeveer 30 mango’s aan die boom en een het ons nogal verras met ‘n gewig van 1,1kg,” sê Marlené.
Die mango-boom, wat ook uit ‘n pit gekweek is, staan beskut tussen twee mure en in die winter maak Pieter hom net aan die bokant met ‘n katoenlaken toe om rypskade te voorkom. Verder pamperlang Pieter die boom met gryswater en gewone Nitrosol, en bespuit dit teen plantluise. Die ryp vrugte is besonder soet en die egpaar maak atjar van die kleiner groenes.
Die Veldmans se maroelaboompies, wat verlede jaar hierdie tyd so 15 cm hoog was, staan nou so een meter hoog. Pieter se jongste eksperiment is om sy eie “dragon fruit” aan die groei te kry. Dié plant, waarvan die vrug wêreldwyd bekend is vir sy gesondheidseienskappe, groei eintlik ook net in baie warm tropiese en subtropiese gebiede. Pieter en Marlené is egter vol moed dat hul “klein drakie” die koue Vaaldriehoekse winter sal oorleef. Te oordeel aan die Veldmans se koestering en noukeurige sorg, is dié plantjie se toekoms beslis in goeie hande!




