Avo’s groei welig in Kleynhanse se ‘beheerde oerwoud’
In die tuin van Johan en Petro Kleynhans van Flemingstraat is ‘n avokadopeerboom wat so baie vrugte dra dat dit enige laeveldse boom ‘n minderwaardigheidskompleks sal gee!
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Dit is nie net veselperskes wat welig in die Vaaldriehoek se hoëveldklimaat groei, soos wat Vaalweekblad verlede week berig het nie.
In die tuin van Johan en Petro Kleynhans van Flemingstraat is ‘n avokadopeerboom wat so baie vrugte dra dat dit enige laeveldse boom ‘n minderwaardigheidskompleks sal gee!
Wanneer mens die Kleynhans-egpaar se tuin ingaan, kan jy jou amper verbeel jy is in ‘n oerwoud in die trope. Pragtige varings, wilde strelitzias, piesangbome en reuse-olifantore groei welig onderlangs, terwyl avokadobome wat meer as twee verdiepings hoog reik, heerlike koelte en beskutting aan die plantegroei op grondvlak bied.
‘n Netjiese wandelpaadjie van klip lei na ‘n lekker kuierplek waar Johan en Petro graag sit en koffie drink om die welige plantlewe in hul tuin te geniet.
Johan (66), wat in ArcelorMittal se produksie-afdeling gewerk het voordat hy met pensioen afgetree het, erken dat sy tuin na ‘n oerwoud lyk, maar dis ‘n “beheerde oerwoud”, sê hy. Hy ken elke plantjie, struik en boom by die naam en elkeen word soos geliefde gesinslede versorg.
“Nee, ek praat nie met my plante nie, maar ek voel tog ‘n soort telepatiese band met hulle. ‘n Plant of boom kan aanvoel as mens vir hulle omgee. Alles wat ek plant, groei,” sê hy.
Johan vertroetel baie van sy plante vanaf die pitstadium, en vriende en familie weet ook al dat hy gereeld ‘n stiggie afbedel. Selfs by ‘n dokter se spreekkamer. Soms soek hy na besondere plante in die natuur – soos een plant wat hy teen die berg naby Rustenburg gevind het.
Subtropiese plante groei redelik maklik in die Vaaldriehoek. ‘n Mens moet hulle in die winter net teen ryp beskerm, maar ook nie te veel nie, sodat hulle die koue gewoond kan raak en kan akklimatiseer, sê Johan.
Hoewel Petro nie so betrokke by tuinmaak soos Johan is nie, geniet sy die vrugte van sy arbeid net soveel soos hy. Sy bak piesangbrood van die soet vingerpiesantjies, en saam-saam smul hulle en hul familie aan die avokadopere in slaaie of op ‘n broodjie.
Avokadobome neem tussen vyf en agt jaar voordat dit vrugte dra, sê Johan. Verlede jaar het hul bome, wat reeds ver bo hul huis se dak uittoring, die eerste keer gedra. Vanjaar se avokado’s word nou ryp en is besonder smaaklik en romerig. En as jy opkyk in die takke, sien jy daar is nog ‘n groot oes wat wag om gepluk te word – alles danksy Johan se liefdevolle sorg.





