Thomas, pa van drie pragtige dogters, was op 21 Desember aan diens en het gewapende begeleiding gebied vir een van die vragmotors vir die maatskappy vir wie hy gewerk het. Die vragmotor is egter by die Swartkoppies-afrit op die R59 deur agt mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, afgetrek. Hulle voertuie was gemerk en in daardie stadium het die padblokkade nie verdag gelyk nie.
Die bestuurder van die vragmotor is gevra om uit die voertuig te klim waarna hulle die lisensieskyfie besigtig het. Volgens ‘n ooggetuie het Thomas eers nader beweeg toe hy sien dit is ‘n padblokkade. Twee van die mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, het na sy voertuig gestap en hom gevra waarom hy gestop het, want hulle het net die vragmotor afgetrek. Thomas het hulle verduidelik dat hy gewapende begeleiding vir die vragmotor bied en daarom het hy gestop. Hulle het hom gevra om sy dokumente aan hulle te oorhandig en daarna is hy gedwing om na die agter sitplek van sy voertuig te skuif.

Volgens twee ooggetuies, wat ook in Thomas se voertuig gedwing is, het een skoot afgegaan. Thomas se liggaam is later in die veld onder ‘n boom gevind. Sy besittings was steeds in die voertuig. Die vragmotor is ook verlate by die Kliprivier-afrit gevind, terwyl die bestuurder van die vragmotor in ‘n oop veld afgelaai is. Slegs een pistool en selfone is gesteel.
“Uit my ondervinding as ‘n privaatspeurder en voormalige polisiebeampte was hierdie ‘n beplande misdaad wat skeef geloop het toe Thomas geskiet is. Die toneel is ook opgeruim deur Thomas se liggaam te skuif asook sy voertuig en die vragmotor te skuif en dit verlate te los. Daar is ook geen koeëldoppie in ‘n 100m radius van die moordtoneel gevind nie,” sê Kobus Meyer.
Die voorval word deur die Brackendowns SAPD ondersoek, maar dit vorder egter stadig. Indien enige persoon inligting het rakende die voorval, of ‘n soortgelyke voorval kan Kobus Meyer by 083 789 9990 geskakel word, of stuur ‘n epos na kobusmeyer@pandcservices.co.za



