Local newsNews

Ratings Africa: Sterre en ‘n swartkol vir Vaal se munisipaliteite

Die Vaaldriehoek is amptelik die tuiste van twee van die toppresterende munisipaliteite in Suid-Afrika se nege provinsies. Ongelukkig akkommodeer die gebied ook een van die swakste munisipaliteite in die land.

Retha Fitchat
Die Vaaldriehoek is amptelik die tuiste van twee van die toppresterende munisipaliteite in Suid-Afrika se nege provinsies. Ongelukkig akkommodeer die gebied ook een van die swakste munisipaliteite in die land.
Dit is die gevolgtrekking van Ratings Africa nadat dié graderingsorganisasie die finansiële state van Suid-Afrika se 100 grootste plaaslike munisipaliteite ontleed en elkeen se tellings op ‘n Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks aangeteken het.
Dit kom nie as ‘n verrassing dat die sukkelende Emfuleni met ‘n telling van 17, die laagste gradering in Gauteng behaal het en dat Midvaal, wat lankal bekend is as ‘n uitblinker, dié provinsie se toppresteerder met ‘n telling van 68 is nie. Wat inwoners van die Vaaldriehoek wel verras het, is dat die Metsimaholo-munisipaliteit (Sasolburg), wat erg gebuk gaan onder diensleweringsprobleme, as die beste in die Vrystaat aangewys is met ‘n telling van 33.
“Die feit dat Metsimaholo die hoogste telling in die Vrystaat behaal het, is ongelukkig nie ‘n ware beeld van hoe goed die munisipaliteit vaar nie. Dit sê eerder hoe swak die res van die munisipaliteite in die Vrystaat is,” sê me. Arnoldi du Plooy, leier van die DA-koukus in Metsimaholo.
Sy sê dienslewering in die munisipaliteit laat veel te wense oor, hoofsaaklik weens gebrekkige politieke en administratiewe leierskap. Wanbetaling vir dienste is ‘n verdere probleem. Die invordering van diensfooie is tans net sowat 67%. en in sekere gebiede van die munisipaliteit is daar slegs ‘n 1% tot 5% betaling vir dienste. Die munisipale wiele word net aan die rol gehou danksy lojale betalers en groot nywerhede wat spesiale projekte befonds om sekere instandhoudingswerk namens die munisipaliteit te doen, sê raadslid Du Plooy.
Volgens Leon Claassen, ‘n ontleder van Ratings Africa, is die enigste hoop om die finansies van meeste van Suid-Afrika se 100 grootste plaaslike munisipaliteite te stabiliseer, dat die regering die likiditeitstekort van R22,4 miljard moet aanvul. Dié geld sal egter uit die reeds swaarbelaste belastingbetalers se sakke moet kom. Claassen voorspel dat munisipaliteite se geldsake – en dus ook dienslewering – verder gaan versleg.
Hy waarsku dat sakelui wat vir munisipale kontrakte tender, bewus moet wees daarvan dat swak finansiële stabiliteit ‘n munisipaliteit se onvermoë kan aandui om sy verskaffers binne 30 dae te betaal soos wat wetgewing vereis. As sakelui wat met sukkelende munisipaliteite sake doen, bewus is van die risiko, kan hulle betyds stappe doen soos om op gedeeltelike vooruitbetaling aan te dring, met ‘n ooreenkoms dat werk gestaak sal word as betalings laat is.
Mnr. Klippies Kritzinger, uitvoerende bestuurshoof van die Golden Triangle Chamber of Commerce, sê hy verwelkom die nuus dat Midvaal en Sasolburg uitblinkers in die land se sukkelende munisipale milieu is.
“Emfuleni kom reeds lankal voor historiese en ander probleme te staan wat reuse-struikelblokke op die pad na finansiële gesondheid plaas. Wat die Vaaldriehoek se munisipaliteite die nodigste het, is sterk politieke leierskap wat duidelike rigting aandui en na die belange van alle inwoners omsien, vaardige bestuurders wat goeie begrotingspraktyke implementeer en dit streng uitoefen, en metodes om wanbetaling reg te stel. Voeg daarby die uitroeiing van korrupsie, dan kan Emfuleni mettertyd ook ‘n uitblinker soos Midvaal word,” se Kritzinger. Hy het weer eens ‘n onderneming gegee dat die sakekamer hand-aan-hand met plaaslike munisipaliteite sal saamwerk om oplossings vir die probleme te soek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button