Die kragtigste wapen waarmee die wêreld verander kan word
Die kragtigste wapen waarmee die wêreld verander kan word

SOLIDARITEIT
Woensdag, Junie 20th, 2018
Onderwys is die beroep waarin daar op ʼn daaglikse basis ʼn verskil gemaak word in die lewens van ʼn diverse groep jongmense, waar hulle talente geslyp en ontwikkel word sodat hulle ook eendag as volwaardige individue ʼn bydrae tot die opheffing van die land sal kan lewer.
In my onderhoud met juffrou Aurora Pansegrouw en juffrou Gerda Joubert by die Prinshof-skool vir swaksiende en blinde kinders het ek net weereens besef watse edele beroep onderwys is en dat dit ongelooflike passie, toewyding, verdraagsaamheid, deursettingsvermoë en karakter verg.
Op my vraag aan Aurora oor hoekom sy ʼn beroep in onderwys gekies het, het sy my vinnig reggehelp deur te sê “Dis nie jy wat onderwys kies nie – onderwys kies jou.” Sonder enige huiwering begin sy my vertel van haar graadeen-juffrou asook haar Biologie-onderwyseres in matriek wat diep spore in haar hart getrap het en ook haar passie vir dié beroep in haar aangewakker het. Alhoewel sy oorspronklik haar graad in Genetika by die Universiteit van Pretoria verwerf het, het sy gou in die onderwys beland.
Aurora staan al vier jaar lank haar skoene vol as onderwyseres in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Wiskunde en Biologie by dié spesiale skool en beskryf haar werk as uitdagend maar vreeslik vervullend. “Ons doen presies dieselfde werk as die hoofstroomskole, ons benadering is net anders,” sê sy gerusstellend.
Gerda is ʼn toegewyde Afrikaanse onderwyseres wat leef vir haar leerders. “Die liefde wat ek vir die kinders het, is onbeskryflik en hulle verryk my lewe op ʼn daaglikse basis.” Sy beskryf haar werk as vreeslik uitdagend maar baie vervullend. “Die feit dat daar wêreldwyd so baie klem gelê word op visuele geletterheid, beteken dat ons taak behoorlik vir ons uitgeknip is. Die voorbereiding van leermateriaal is baie meer intensief, en ons buitemuurse aktiwiteite is baie meer akademies van aard, byvoorbeeld ekstra klasse. Gelukkig is die studiemateriaal goed saamgestel en is die toerusting tot ons beskikking van die hoogste gehalte, en dit vergemaklik ons taak,” het Gerda bygevoeg.
ʼn Goeie onderwyser word nie aan uitstekende resultate aan die einde van elke akademiese jaar gemeet nie, maar aan die impak wat hy of sy op die kinders se lewe het. Dit word weerspieël deur die samelewing waarin ons lewe. “Ons het ʼn baie intieme verhouding met die kinders, veral omdat die meeste van ons kinders in die koshuis is. Ons is hulle tuiste weg van die huis,” sê Aurora.
Aurora som Prinshof-skool op as ʼn tuiste vir die leerders, waar hulle as onderwysers deur hulle bydrae en betrokkenheid ʼn invloed op die leerders se lewe kan hê wat later self ʼn impak in die samelewing sal hê. “Elke kind se storie en agtergrond is anders en vir party kinders is ʼn dag by die skool hulle enigste stukkie normaal, daarom het ek besluit om onderwys as my wapen te gebruik om dié kinders se wêreld een vir een te verander, en dan so die samelewing ʼn beter plek te maak,” het Aurora gesê.
Gerda het hierby aan gesluit en gesê dis hoekom dit so belangrik is om verby hulle gestremdheid te kyk. “Dit is uiters belangrik vir die kinders se ontwikkeling om normaal behandel te word. Indien jy die heeltyd hul gestremdheid uitsonder en voorbrand maak vir hul gestremdheid, gaan hulle nie in staat wees om as volwaardige individue hul plek in die samelewing vol te staan nie,” het Gerda bygevoeg.
Vir party kinders is hul onderwysers die enigste individue wat hulle in hul pogings steun. “Daar is geen gevoel wat so vervullend is soos om ʼn leerder wat sonder enige moed of motivering by jou kom, in te neem en te help nie, om daar te wees wanneer hy of sy ʼn oomblik van helder insig beleef en dan floreer in dit wat hy of sy aanpak. Dit is die dinge wat ons motiveer om onderwysers te wees wat lewens verander en leerders help om die in die rigting in te gaan waarvoor hulle bestem is,” het Gerda afgesluit.



