DA-wyksraadslid me. Salome van Rensburg was onlangs aan die ontvangkant van kritiek nadat die VF Plus ‘n persverklaring uitgereik het na aanleiding van klagtes wat oor haar beweerde gedrag ontvang is.
In die persverklaring sê die VF Plus dat inwoners dié party genader het om hulp nadat hulle ‘n geruime tyd al probleme met hul watertoevoer ondervind. Luidens die klagtes is DA-wyksraadslid Van Rensburg glo onwillig om te help en is sy “selfs beledigend” teenoor inwoners wat haar met hul probleme nader.
Saam met die klagtes is ook ’n klankopname van ʼn gespreksgroep waarin sy glo in onwelvoeglike en kru taal aan die mense op die groep sê om haar nie te belas met hul probleme nie. In die klankgreep kan onder meer gehoor word hoe die “f”-woord herhaaldelik gebruik word en aan ʼn persoon gesê word om self ondersoek in te stel na wat die oorsaak van hul waterprobleem in die gebied is. Sy sê ook dat die waterprobleem nie voor Midvaal se deur geplaas moet word nie, maar wel voor die ANC-beheerde Emfuleni-munisipaliteit.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n openbaar-verkose lid van ʼn politieke party wat in diens van die publiek staan, op hierdie wyse optree. Die kruks van die probleem is dat inwoners van Risi-ville hul water en krag van Emfuleni kry, maar hul rekeninge van Midvaal en daar moet betaal. Dit skep probleme en verwarring en die VF Plus sal ʼn gesprek voer met die Gautengse LUR van plaaslike regering, mnr. Uhuru Moiloa, om ʼn oplossing te vind. Die VF Plus se voorstel is dat die infrastruktuur na Midvaal oorgedra word om Emfuleni uit te skakel uit die proses. Dit sal verhinder dat aanspreeklikheid van die een na die ander rondgeskuif word,” sê mnr. Kobus Hofmann van die VF Plus.
Die VF Plus het ook ’n skrywe gerig aan die speaker van Midvaal, mnr. Freddie Peters, waarin hy gevra word om die saak op te neem en die gepaste stappe teen me. Van Rensburg te doen in belang van die inwoners wat geldige probleme het. Volgens me. Van Rensburg het die onderonsie begin toe inwoners van Risiville en Drie Riviere geen water gehad het nie.
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het egter die water afgesit en inwoners en raadslede het bontgestaan om water na die Midvaal Hospitaal te vat omdat hulle masjiene nie daarsonder kan werk nie.
“Op die betrokke dag het een van die inwoners gesorg vir groot drama op een van die WhatsApp-groepe deur te sê dit is die DA se skuld dat daar nie water is nie en dat die DA die watertoevoer onderbreek het, terwyl dit eintlik die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit was. Ek het my cool verloor en ek was in daardie stadium baie gefrustreerd toe ek die voice note gestuur het,” sê me. Van Rensburg. Hulle het ook watertenks gereël vir inwoners, en inwoners kon selfs water by me. Van Rensburg se huis kom haal. Sy sê egter die probleem is dat inwoners van Risiville belasting aan Midvaal Plaaslike Munisipaliteit betaal, maar die infrastruktuur is steeds deel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, so met die waterdruk wat deur Rand Water verlaag is en enige probleme met die watertoevoer, word inwoners van Risiville ook geraak.
“Dit is ‘n leuen dat ek nie die werk en take van ‘n wyksraadslid verrig nie. Ek gaan uit my pad vir die inwoners en almal weet ek is 24 uur per dag, sewe dae ‘n week beskikbaar as hulle enige klagtes het,” sê sy.



