Oud-sportskrywer behaal 90ste mylpaal
Hennie was altyd ernstig in sport betrokke, met deelname veral in atletiek en rugby, en het jare lank in die bestuur van die Yskor-rugbyklub in Vanderbijlpark gedien.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende inwoner van die dorp, mnr. Hennie (Harry) Basson, het pas die rype ouderdom van 90 jaar bereik.
Hy woon reeds sedert 1952 in Vanderbijlpark en het 35 jaar diens by die destydse Yskor in Pretoria en Vanderbijlpark gehad. Dié oud-“Suidwester” het aan die bekende Paarl Boys High gematrikuleer en is steeds ‘n groot WP-ondersteuner.
Hy was altyd ernstig in sport betrokke, met deelname veral in atletiek en rugby, en het jare lank in die bestuur van die Yskor-rugbyklub in Vanderbijlpark gedien.
Hennie het deur die jare ook ‘n besondere verbintenis met Vaalweekblad gehad. Hy het in die 1970’s en 80’s vir sowat 10 jaar lank vir Vaalweekblad sportberigte op ‘n vryskutbasis geskryf. Redaksielede wat hom in daardie jare leer ken het, onthou hom steeds vir sy deeglike en lekkerlees-sportverslae.
Hennie was 66 jaar getroud met An Basson, wat hom in 2015 ontval het.
Hy is veral bekend vir sy liefde vir, en versameling van klippe, edelstene en skulpe. Hy is steeds geseënd met goeie gesondheid en woon nou in die Herfsoord-aftreeoord in Vanderbijlpark. Hennie het een dogter, Anita, wat getroud is met Pieter Erasmus, en is ook die trotse oupa van twee kleinseuns en een agterkleindogter.



