VAALDRIEHOEK DUO VICTOR BRAVO SING OOR LIEFDE EN VERLANGE IN EERSTE ENKELSNIT
Sien en hoor hulle Vrydagaand 30 November in lewende lywe by die Duitse klub in Vanderbijlpark. Toegang is gratis!

BREAKWAY LINE, die groep Victor Bravo se debuut-enkelsnit, is een van daardie liedjies wat ’n gehoor onwillekeurig laat stil raak, omdat hulle nie anders kan as om met aandag te luister na die lirieke wat soveel rou emosie in die interpretasie daarvan ontlok nie. Dit het reeds speeltyd ontvang op Cousin Rick se program op IFM, asook op Francois Deysel se program op FM Stereo en die reaksie was oorweldigend.
Die snit, uit die pen van die groep se hoofsanger, gaan oor daardie intense gevoel van verlange, wanneer plig jou dwing om die liefde van jou lewe agter te laat om vir haar ’n beter toekoms te verseker. “Vroeg in ons verhouding, moes ek my meisie (nou my vrou) agterlaat om in Botswana te gaan werk. Elke koebaai, wanneer ek kom kuier het, was moeiliker as die vorige een en saam met die langafstand ontstaan daar baie vrae en twyfel in jou hart… oor of dit die moeite werd is en of die verhouding dit gaan oorleef,” verduidelik hy. “Ek en haar nefie, wat op daardie stadium saam met my op die projek gewerk het en pas pa geword het, het een aand erg verlang en daardie dag is die liedjie geskryf. Nie net om ons te troos nie, maar ook as ’n baken van hoop vir elkeen wat ooit hulle verhouding oor duisende kilometers aan die lewe moes hou.”
BREAKWAY LINE, wat deur Renier Henning vervaardig is, kan hoofsaaklik beskryf word as ’n kontemporêre Afrikaanse snit, met ’n Blues-ondertoon wat konstant deur die hoofkitaar aangevoer word. Laasgenoemde is juis eie aan die groep se unieke en kenmerkende styl. Die kombinasie van sielvolle lirieke en ’n meesleurende wysie, is die perfekte pasmaats vir ’n uitsonderlike stem wat jou op ’n emosionele en eerlike reis neem van begin tot einde. “Die liedjie het ’n mooi betekenis en storie, waarmee mense in verskillende situasies sal kan vergelyk,” voeg die hoofkitaarspeler by.
Daar word natuurlik ook ’n musiekvideo vir die enkelsnit beplan vir begin volgende jaar, maar hieroor wil hulle nie veel meer verklap as dat dit ’n gevoelvolle liefdesverhaal gaan uitbeeld nie.
’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek, het gelei tot die ontstaan van dié akoestiese duo, wat vanaf 2018 saam optree by kuierplekke in die Vaaldriehoek en omliggende areas.
Die groep, wat bestaan uit Weco van Basten en Jopie Pienaar, het ’n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke soomloos laat saamsmelt om ’n vars en nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind. “Die projek, Victor Bravo, is so twee jaar terug gebore as ’n konsep in my kop. Die idee was om ’n platform te skep uitsluitlik vir musiek, sonder die ander sideshows,” verduidelik Weco.
In die kort tydjie wat hulle amptelik saam musiek maak, het die musiekpaar (wat ook familie is) reeds verskeie hoogtepunte beleef. As deel van die Local is Lekka-kompetisie en -inisiatief; wat deur die bekroonde Country-ster Vernon Muso, VCR 90.6, IFM Radio 102.2, Mooivaal Media en Barnyard Vereeniging aangebied word; het hulle nie net die wonderlike voorreg gehad om te open vir komedielegende, Barry Hilton, se konsert nie, maar ook om op radio met Cousin Rick daaroor te gesels. Verder was Victor Bravo ook deel van die On Tap-kunsbierfees by Emerald Resort & Casino en het hulle al by verskeie groot kuierplekke in die Vaaldriehoek, Pretoria en Kroonstad opgetree, waaronder die Yami Rib & Burger-groep se verskillende restaurante, met die hulp van die besprekingsagent Maxus Music Company. “Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” verklap Jopie oor wat gehore van hulle konserte kan verwag.
Voorsanger, liedjieskrywer, ritmekitaar- en klavierspeler, Weco van Basten, kom uit ’n musikale familie wat gereeld saamkuier om die braaivleisvuur met ’n kitaar in die hand en ’n liedjie om te deel. Hy het hoofsaaklik in Sasolburg grootgeword en van kleins af musieklesse geneem, in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan al wat kunswedstryd en konsert is. Gedurende die laaste twee jaar van sy laerskoolloopbaan, was hy ook lid van die Drakensberg Seunskoor. Omdat hy nog altyd passievol was daaroor om mense te vermaak en die stories in sy hart op papier te deel, is hy na skool Amerika toe om Drama en Engelse Kreatiewe Skryfkuns te studeer. In hierdie tyd, was hy deel van die akoestiese groep, Victim, wat gereeld in en rondom Houston opgetree het. Die finale twee jaar van sy Taalstudies, is by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi, waar hy ook sy vrou ontmoet het. Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, sonder hy kunstenaars R.E.M., Cat Stevens, Sarah McLachlan, Eric Clapton, Ted Hawkins, Karen Zoid, Klopjag, Eminem, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, 2nd Life en Jo Black uit as musikante wat, vir verskeie redes, sy eie styl tot dusver beïnvloed het. Hy verklap verder dat enigiets hom kan inspireer om ’n liedjie te skryf op die regte oomblik. “Alledaagse dinge, soos koudkry, braaivleis en vriende, gee my soms idees vir lirieke. Maar dis die rou menslike oomblikke, daardie hartverskeurende mooi insidente waar die menslike weerloosheid naak lê vir almal om te sien, wat my die meeste tref… en dan moet ek skryf,” sê hy. Natuurlik is al sy musiek nie ewe ernstig nie en het hy dit geniet om onlangs die treffer, Boontasties, vir die trap-kunstenaar BOON se eerste album te skep. ’n Tweede lied, Sê Net Wat Jy Wil Sê, is ook deur dié kunstenaar aanvaar, maar verskil hemelsbreed van sy prettige voorganger.
Hoofkitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Jopie Pienaar, is ’n passievolle musikant met ’n natuurlike talent om van die kitaar een van die hoofrolspelers in enige musiekproduksie te maak. Musiek was nog altyd deel van sy lewe en iets wat hom kon laat goed voel in enige fase of situasie waarin hy homself bevind het. Nadat hy op die ouderdom van veertien sy eerste rockkonsert (Straatligkinders) bygewoon het, het hy ’n kitaar aangeskaf en homself leer speel. Op hoërskool was hy deel van die band, Mad About You, en was hy ook betrokke by verskeie musiekprojekte by die skool en kerk. Dit is egter die tye, rondom die braaivleisvuur saam met Weco, wat vir hom uitstaan en wat hy beskou as die amptelike ontstaan van Victor Bravo. Wanneer hy nie besig met optredes nie, is hy ook ’n fiksheidsinstrukteur by Crossfit in Vanderbijlpark en werk hy daaraan om sy eie talent en selfvertroue as sanger en liedjieskrywer verder te ontwikkel. Buiten vir sy groot liefde vir Bluesmusiek, meen hy dat groepe soos Blink 182, Fokofpolisiekar, Dire Straits, Pink Floyd, Lynyrd Skynyrd en Kings of Leon die grootste invloed op sy kitaarstyl gehad het. “Tans luister ek na Spoegwolf. Hulle manier van skryf en hoe hulle musiek opbou en vloei, is baie goed. Ek hou ook van Rainbow Kitten Surprise se vreemde styl, metafore en die hoofsanger se stem,” vertel hy.
Victor Bravo wil hê dat hulle musiek moet wees watookal die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.
Wat begin het as ’n Nuwejaarsvoorneme om musiek te maak ter wille van die passie en naletenskap daarvan, het uitgedraai in ’n kitssuksesverhaal wat die groeplede se wildste drome oortref het.
BREAKWAY LINE kan afgelaai word op iTunes, Spotify, Google Play, Deezer, Apple Music, Amazon Music en ander aanlynplatforms.
VOLG VICTOR BRAVO OP SOSIALEMEDIA
Facebook: https://www.facebook.com/VictorBravoMusic



