Local newsNewsNewsUpdateBreaking News
11-Jarige sterf in hospitaal – geen outopsie uitgevoer
11-Jarige sterf in hospitaal na 'oorontsteking'
Jannie du Plessis
Opgedateer vanaf Vaalweekblad berig – 23 Januarie 2019
VANDERBIJLPARK. – ‘n Elfjarige meisie het laat Donderdagoggend 17 Januarie in die Sebokeng-hospitaal gesterf nadat sy twee weke gelede vir oorontsteking opgeneem is. Haar toestand het egter vinnig versleg en sy is oorlede.
Johannet Badenhorst (11), ‘n leerling aan Laerskool Vaalrivier, het die afgelope tyd glo gereeld oorinfeksie gekry. Op Vrydag 11 Januarie was die pyn onuithoudbaar en is sy na die Sebokeng-hospitaal geneem.
Nuwe inligting het aan die lig gekom dat sy moontlik aan breinvliesontseking (meningitus) dood is. Die doodsertifikaat dui egter aan dat sy aan natuurlike oorsake dood is. Geen outopsie is uitgevoer nie wat familie en vriende en die gemeenskap met baie vrae laat. Volgens die familie is aan hulle verduidelik dat die siekte hoogs aansteeklik is en dat daar in so ‘n geval, nie ‘n outopsie uitgevoer gaan word nie. Die vraag bly egter, waaraan is sy nou regtig dood. Sy is opgeneem vir oorinfeksie en behandel daarvoor.
Volgens die familie was sy te swak om self te loop die eerste keer wat sy die Sebokeng hospitaal besoek het. Inligting wat Vaalweekblad ontvang het, is dat die dokter aan diens, vir Johannet wou opneem weens haar swak toestand. Die oordokter wat haar ondersoek het, het egter gesê sy kon huis toe gaan, nadat hy vir haar 1500mg antibiotika wat sy per dag moes neem, voorgeskryf het. Sy het tuis rasend geword van pyn in haar kop en het teen Dinsdag 15 Januarie so verswak dat sy weer na die Sebokeng-hospitaal geneem is. Woensdag 16 Januarie het sy in ‘n koma gegaan by die huis en is per ambluans na die Sebokeng hospitaal geneem. Sy is op ‘n ventilator geplaas. Na 12 die middag is sy geneem vir ‘n breinskandering. Teen 15:00 die middag sou hulle haar oorplaas na die Baragwanath hospitaal maar sy was te swak.
Toe dokters egter gesê hy gaan die ventilator ontkoppel om te sien of sy self kan asemhaal. Die dokter het die familie ingelig dat sy breindood is. “Die familie hhet die dokter gesmeek om die masjiene weer aan te sit maar hulle wou nie,” het een van die familielede aan Vaalweekblad vertel. Haar hart het net voor 01:00 op Donderdag 17 Januarie gaan staan.
Die hospitaal het haar dood as natuurlik aangetoon en geen saak is geopen nie. Die familie het egter ‘n saak by die polisie aanhandig gemaak. Haar lyk is oorgeplaas vir die outopsie maar geen outopsie het plaasgevind nie.
Nadat die Community Support Forum (CSF) van Vanderbijlpark op sosiale media gevra het vir donasies om te help met die kostes van die begrafnis, het hulle Maandag 21 Januarie aangekondig dat die begrafnis ten volle gedek is deur skenkings uit die gemeenskap. Leana Gough-Killick van die CSF bedank almal vir hul bydraes om die begrafnis moontlik te maak. Leerlinge van Laerskool Vaalrivier het by die skool ook ‘n muntlegging gehou om by te dra tot hul maatjie se begrafnisdiens.
Johannet is Vrydag 25 Januarie om 11:00 vanuit die Park Tabernakel in Evereststraat begrawe. Johannet laat haar ma, Annemarie Badenhorst en stiefpa, Nico Pretorius, twee broers en een sussie agter.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!















