LifestyleLocal newsNews

Wie weet wat het hier gebeur?

Honderde mikrogolfoonde, rekenaars, TV's en dekodeerders in Vanderbijlpark is vernietig weens beweerde 'spike'

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Wat het op Sondag, 17 Februarie omstreeks 09:00 die oggend gebeur toe inwoners van CE1 se elektriese toerusting soos mikrogolfoonde, rekenaars, TV’s en dekodeerders skielik ophou werk het? Weerlig kon dit nie wees nie, want dit was ‘n sonnige oggend sonder enige teken van swaar weer.
Verskeie inwoners het reeds hul lot by Vaalweekblad oor dié vreemde gebeurtenis kom bekla. Dit is ook nie net CE1 wat geraak is nie. Die probleem het later uitgebrei na CE7, SE7 en skynbaar ook gedeeltes van SE3.
“Daar is so baie dekodeerders stukkend weens die voorval dat ‘n mens op die oomblik amper geen dekodeerders in die Vaaldriehoek te koop kry nie. Alles is uitverkoop,” sê een van die inwoners wat verskeie van sy elektroniese toerusting verloor het.
Volgens mnr. Hennie Steyn, ook ‘n inwoner van CE1, blyk dit dat daar die oggend van 17 Februarie ‘n elektriese “spike” was wat veroorsaak het dat die normale kragvoorsiening van 200 volt skielik opgeskiet het na 400 volt.
“‘n Munisipale werknemer het verduidelik dat dit die gevolg was van ‘n aardkabel wat gesteel is, maar ander kenners sê dit is onmoontlik dat ‘n afwesige aardkabel so ‘n geweldige piek in die volts kon veroorsaak het,” sê mnr. Steyn.
Sedert die voorval staan sy en ander mense in sy straat se “smart meters” stil. Hoewel hulle steeds elektriese krag in hul huise het, lyk dit asof die meters glad nie die verbruik meet nie.
‘n Blits-opname deur Vaalweekblad het getoon dat minstens 14 “smart meters” byvoorbeeld in een straat buite werking is. Dié huisbewoners kan tans elektrisiteit gebruik sonder om dit aan te vul omdat hul kragverbruik nie normaal registreer nie. Hoewel sommige van die inwoners dit natuurlik verwelkom, is ander bekommerd dat hulle in ‘n later stadium ten duurste vir hul “gratis” krag sal moet opdok.
Van die inwoners meen ‘n sindikaat sit dalk agter die spike in ‘n poging om die “smart meter”-stelsel verder lam te lê.

* Inwoners wat soortgelyke ervarings gehad het, kan gerus kommentaar lewer op Vaalweekblad Facebook, of as u anoniem wil bly, kan u ‘n e-pos stuur na rfichat@media24.com of WhatsApp /SMS na 083 246 0523.

Vaalweekblad kon nie oor die naweek daarin slaag om kommentaar by Emfuleni te kry nie, maar ons sal so gou as moontlik terugvoer gee.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button