Down-sindroom kry Sheri nie onder
VANDERBIJLPARK. – As die natuur vir jou ‘n stel afwykende chromosome uitgedeel het, beteken dit nie noodwendig dat jy jou lewe afhanklik van ander en in ‘n inrigting moet slyt nie. Hiervan is Sheri Brynard (33) ‘n lewende bewys. Sheri het Down-sindroom, maar dit het haar nie gekeer om ‘n tersiêre kwalifikasie te behaal sonder …
VANDERBIJLPARK. – As die natuur vir jou ‘n stel afwykende chromosome uitgedeel het, beteken dit nie noodwendig dat jy jou lewe afhanklik van ander en in ‘n inrigting moet slyt nie. Hiervan is Sheri Brynard (33) ‘n lewende bewys.
Sheri het Down-sindroom, maar dit het haar nie gekeer om ‘n tersiêre kwalifikasie te behaal sonder dat enige aanpassings aan die kurrikulum gemaak is nie.
Tydens ‘n onlangse simposium, Teacher Education for Inclusion, wat by die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit aangebied is, het Optentia ‘n eretoekenning aan Sheri oorhandig. Optentia is ‘n multidissiplinêre navorsingseenheid in die Fakulteit Geesteswetenskappe.
Sheri is die enigste mens in die wêreld met Down-sindroom wat ‘n gekwalifiseerde onderwyser met ‘n tersiêre diploma is. Sy is ‘n assistent-onderwyseres by ‘n pre-primêre skool en ook ‘n gewilde motiveringspreker in Suid-Afrika, sowel as oorsee. Sy is ook ‘n internasionale ambassadeur vir alle mense met Down-sindroom. Buiten die 380 openbare toesprake wat sy al in Suid-Afrika gelewer het, het sy ook reeds in die buiteland opgetree – onder andere by die internasionale hoofkantoor van die Verenigde Nasies in New York.
Sheri se voorliefde vir toneelspel het haar ook ‘n klein rolletjie in die TV-reeks Binnelanders besorg. Nog een van haar geliefkoosde tydverdrywe is skryf en sy is tans besig met haar eerste boek.
Sheri glo dat elke mens, ondanks uitdagende omstandighede, kan skitter en ander mense se lewens kan aanraak, en sodoende ‘n positiewe verskil in die wêreld kan maak. – rfichat@media24.com



