NewsNews

‘Vreemde’ dooies mag nie hier kom rus

RUST-TER-VAAL. – ‘n Eenparige, maar baie omstrede besluit is verlede week deur Rust-ter-Vaal se inwonersforum en Emfuleni se lid van die burgemeesterskomitee vir Sport, Ontspanning en Begraafplase, Shaka Radebe, geneem dat oorledenes wat nie inwoners van Rust-ter-Vaal was nie, nie in dié woonbuurt se begraafplaas begrawe mag word nie. Die besluit is in die teenwoordigheid …

RUST-TER-VAAL. – ‘n Eenparige, maar baie omstrede besluit is verlede week deur Rust-ter-Vaal se inwonersforum en Emfuleni se lid van die burgemeesterskomitee vir Sport, Ontspanning en Begraafplase, Shaka Radebe, geneem dat oorledenes wat nie inwoners van Rust-ter-Vaal was nie, nie in dié woonbuurt se begraafplaas begrawe mag word nie.
Die besluit is in die teenwoordigheid van die polisie geneem. Mnr. Erling van Wyk, voorsitter van Rust-ter-Vaal se inwonersforum, sê die besluit geld tot verdere kennisgewing en is geneem om orde en waardigheid by die begraafplaas te herstel. Dit volg nadat ‘n tragedie onlangs hier afgespeel het. Oproer het twee maande gelede in dié klein dorpie, waar hoofsaaklik bruinmense woon, uitgebars toe inwoners van ‘n swart woonbuurt ‘n geliefde hier wou begrawe. Iemand het toe ‘n bus, wat begrafnisgangers van die swart buurt af na die begraafplaas vervoer het, met ‘n petrolbom bestook en dit het uitgebrand. Een vrou wat in die bus vasgekeer was, is in die voorval dood. ‘n Verdagte, in wie se besit ‘n onwettige vuurwapen ook gevind is, is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Volgens mnr. Motsumi Phale van JMP Undertakers is hy en ander begrafnisondernemers van die swart woonbuurt glad nie tevrede met die besluit nie. Hy sê Rust-ter-Vaal se inwoners kan nie daarop aanspraak maak dat hul grond “verhewe” is bo ander of dat ander mense uitgesluit mag word nie.
“Die grond, insluitend die begraafplase, behoort aan almal. Die munisipaliteit straf in werklikheid die begrafnisondernemers en vergeet dat die mense wat die meeste weens dié besluit ly, dié is wat ‘n geliefde verloor het,” sê Phale. Die Emfuleni Plaaslike Raad is ook daarvan beskuldig dat hulle “sekere groepe met sagte handskoene” hanteer.
Na die vorige onluste het Rust-ter-Vaal se inwoners gewaarsku dat begrafnisgangers nie alkoholiese drank mag saambring wanneer ‘n geliefde begrawe word nie, omdat ‘n openbare drinkery tot chaos lei. Mense van buite die gebied beskou dié reël as rassisties en meen dit weerspieël ‘n gebrek aan verdraagsaamheid en transformasie van Rust-ter-Vaal se inwoners.
Een van Rust-ter-Vaal se gemeenskapsleiers, Eric Lawaak, sê egter Rust-ter-Vaal is bekend vir sy verdraagsaamheid en dat rassisme geen plek hier het nie. “Die wiel van transformasie het al lankal in Rust-ter-Vaal gerol, nog voor die geboorte van Suid-Afrika se demokrasie. Ons gemeenskap is oortuig daarvan dat hier vrede, vryheid en rustigheid is. Ondanks politieke en rasse-ideologieë waaroor daar steeds gepraat word, het die wonde van apartheid al lankal hier genees.” Hy het voorts gesê die gemeenskap keur dit af dat ‘outsiders’ hul neuse in Rust-ter-Vaal se sake kom steek en dat dit jammer is dat ‘n bakleiery oor die begraafplaas nou die vonk vir ‘n rassevuur veroorsaak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button