Karlien, wat onder meer bekend is vir haar trefferliedjie Carolientjie soek ‘n man, is pas met die man van haar drome, die musikant Anthony McGee, getroud.
Sy beskryf hul troudag by die Speedboat Club in Benoni as sprokiesmooi en “wow!”. “Ons het R180 000 se borge gehad wat ingespring het en elke
liewe wens en droom van my waar gemaak het,” sê sy. Haar pragtige bruidstabberd is deur ‘n vriend, Rudolf Design, gemaak.
Sowat 80 gaste het in die dag gedeel en Karlien en Anthony se kinders was ook deel van die verrigtinge. “Dit was ongelooflik mooi. Ons het vir ons drie kinders ook ringetjies tydens die seremonie gegee. Dit was emosioneel en ons en die gaste het almal saam gehuil. Die beste van alles was dat die Heilige Gees byna tasbaar teenwoordig was.” Karlien sing al 15 jaar. Sy het sewe albums, insluitend ‘n goue agter haar naam en het ook al heelwat liedjies vir ander sangers geskryf. Sy is deur die jare reeds vir Vonk-toekennings, Ghoemas, Sacmas (South African Country Music Assosiation) en vele
meer genomineer. Kurt Darren en Steve Hofmeyr is van die groot name saam met wie sy al gesing het, en baie van haar treffers soos Niemand nog soos jy, Dis blou sonder jou, Carolientjie soek ‘n man, Ditto, Ek belowe jou, Sing jou hart van liefde, en Rosie van die Vrystaat het al die Nommer Een-posisie op Top 10- en Top 20-treffersparades op verskeie radiostasies behaal.
Een van haar grootste oomblikke was toe sy in 2009 op die hoofverhoog by Innibos gestaan het. Karlien beskryf haarself as ‘n passievolle mens. “Musiek is my passie en ek sing, skryf en tree al 15 jaar by feeste en ander geleenthede op. Ek het depressie oorwin en het opgestaan na my egskeiding,
waar ek alles verloor het, en in kroeë begin sing tot ek weer op my voete begin kom het. Ek is ‘n vegter, ‘n dromer, en ek glo in Jesus,” sê sy.
Haar blinkhelder oë weerspieël egter nie net veggees nie – daar is ‘n nuwe sagtheid wat liefde en geluk uitstraal.
Hou maar dop, dié Valie is gereed om die land net verder aan die brand te sing!

Husselman, deesdae
‘n inwoner van die
Vaaldriehoek, op haar
troudag vroeër die
maand.



