Geliefdes en kollegas groet bekende landdros
VEREENIGING. – “Mnr. Ferreira se hof het nou vir die laaste keer verdaag.” Met dié woorde het mnr. Steve Ferreira Vrydag sy laaste eer aan sy broer, die bekende Vaaldriehoekse landdros Leon Ferreira, betuig. Mnr. Leon Ferreira (44) het op 16 November weens orgaanversaking gesterf. Hy het tot onlangs nog verskeie groot hofsake in die …
VEREENIGING. – “Mnr. Ferreira se hof het nou vir die laaste keer verdaag.” Met dié woorde het mnr. Steve Ferreira Vrydag sy laaste eer aan sy broer, die bekende Vaaldriehoekse landdros Leon Ferreira, betuig.
Mnr. Leon Ferreira (44) het op 16 November weens orgaanversaking gesterf. Hy het tot onlangs nog verskeie groot hofsake in die Vaaldriehoek behartig, onder andere die veelbesproke “Boelie-saak” waarin ‘n skoolseun van afknouery op ‘n skoolmaat verskyn het.
Leon is op 22 April 1971 in Parys gebore en was die seun van die geliefde Vanderbijlparkse prokureur Steve Ferreira (sr.) wat in 1997 aan kanker gesterf het.
Leon het in 1988 aan die Hoërskool Vanderbijlpark gematrikuleer en op 17-jarige ouderdom sy loopbaan in die Departement van Justisie in Meyerton begin. Daar het hy as klerk van die hof begin werk en hom later as kranige aanklaer bekwaam. Hy het sy graad in die Regte aan Unisa verwerf en in 1994 is dié jong juris as landdros op die aflospersoneel aangestel. In dié tydperk is hy die land vol gestuur en het op verskeie plekke van Atlantis in die Kaap tot in Gauteng en die Vrystaat diens gedoen. Hy het die afgelope jare hoofsaaklik in Vereeniging en Heidelberg gewerk.
“Leon het diep spore in Justisie getrap. Ek ken hom as broer en hy was nie ’n maklike man nie. As kind was hy dikwels die een wat aangejaag het en moes ek as ouer broer die verduidelikwerk doen. Maar een ding weet ek, hy het sy eie opinies gehad en jy kon hom nie maklik anders oortuig nie. En meeste van die kere was hy reg,” het sy broer Steve Vrydag by die huldigingsdiens gesê.
Staaltjies oor Leon se toewyding aan sy werk (én sy liefde vir veteraanmotors wat hy met sy pa en broer gedeel het) is daar baie. Soos die keer toe sy Studebaker Lark se voorruit deur ‘n klip uitgeslaan is net voor hy vir werk Kaap toe moes vertrek. Hy kon nie gou genoeg weer so ‘n geronde windskerm kry nie en het toe maar sy motorfiets se valhelm opgesit, ’n serp om sy nek gedraai en al die pad sonder windskerm Kaap toe gery.
Landdros Leon het vir sy werk geleef en het ‘n natuurlike aanvoeling vir reg en geregtigheid gehad. “Sy uitsprake was op Deuteronomium 16:18 gebaseer. Hy was nooit partydig nie en het alleen laat geld wat reg is. Hy het sy dagtaak só gedoen dat hy eintlik net in opdrag van die Hoër Hand gewerk het,” sê Steve, wat self ook ‘n landdros in Welkom is.
Wyle Leon se huldigingsdiens het Vrydag in die E.G. Kerk Vanderbijlpark plaasgevind. Buiten sy broer en groot vriendekring word Leon oorleef deur sy ma, Susan. Sy het in 1999 ook ‘n dogter op ‘n jong ouderdom weens kanker aan die dood afgestaan.



