NewsNews

Versorgingsoord hou karnaval en ope-dag

VEREENIGING. - Die Tabita Versorgingsoord op Plot 79, Helenasrus (langs die R82, Ou Johannesburgpad) hou op 30 November vanaf 08:30 tot 12:30 ’n karnaval en ope-dag, waartydens pasiënte besoekers met sang en gedigte sal vermaak.

Daar sal ook ’n modeparade wees waartydens rokke wat die pasiënte self uit weggooimateriaal gemaak het, ten toon gestel sal word. Die Vroue Landbou-unie (VLU) sal worsbroodjies en koeldrank verkoop.
Volgens Daleen Venter van dié versorgingsoord is dit deel van ’n bewusmakingsveldtog oor die sentrum en wat hulle doen.
Die Tabita Versorgingsoord is volgens Venter ’n nie-winsgewende organisasie wat spesifiek pasiënte met psigiatriese probleme (soos bipolêre gemoedsteuring, demensie, grenslynpersoonlikheidsversteuring, depressie, skisofrenie en talle ander geestesversteurings) behandel en rehabiliteer.
Volgens Venter is daar tans sowat 75 pasiënte in die oord.
Die oord het ’n kapasiteit om sowat 84 pasiënte te akkommodeer. “Baie van die pasiënte wat ons hier het, sukkel om in die gemeenskap te funksioneer. “Baie van hulle het glad nie familie wat met hulle kontak maak nie. Ons probeer hulle rehabiliteer en terapeuties behandel met die hoop dat hulle eendag weer in die gemeenskap sal kan funksioneer en vir hulself kan sorg. “Dit is dikwels ’n lang en moeilike proses,” vertel sy. Volgens Daleen het depressie en selfmoord die afgelope tyd toegeneem in Suid-Afrika. “Daar is so baie mense met probleme. Hulle weet dikwels nie van plekke soos die Tabita Versorgingsoord wat ondersteuning kan bied nie. “Daar is ook baie miskonsepsies oor wat geestesversteurings behels,” vertel sy.
* Die oord is naby die R82 (Ou Johannesburgpad) op ’n grondpad geleë. Die afdraai by die grondpad wat na die sentrum lei sal op die dag duidelik gemerk wees. Dit is die grondpad net na die grondpad na Hamman-boerdery). Skakel Magda Pieters, Suzette Swart of Daleen Venter van die versorgingsoord by 082 775 3187 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button