Photo GalleriesSportSportSport

Vaal se boogskietkoningin ryg Protea-kleure in

VAALPARK. – Wanneer sy met ‘n boog mik beter jy skrik. Die 42-jarige Jeanine van Kradenburg, ‘n gekwalifiseerde haarkaptster van die Vaaldriehoek, het nie verniet al 15 keer haar Protea-kleure in boogskiet verwerf nie. Sy is ‘n skut van formaat!  Op 31-jarige ouderdom het sy tot die besef gekom dat sy ‘n jagweduwee gaan word …

VAALPARK. – Wanneer sy met ‘n boog mik beter jy skrik. Die 42-jarige Jeanine van Kradenburg, ‘n gekwalifiseerde haarkaptster van die Vaaldriehoek, het nie verniet al 15 keer haar Protea-kleure in boogskiet verwerf nie.

Sy is ‘n skut van formaat!  Op 31-jarige ouderdom het sy tot die besef gekom dat sy ‘n jagweduwee gaan word as sy nie saam met die adamsgeslag in haar gesin gaan begin boogskiet nie. Jan Tuisbly se karretjie was elke naweek haar voorland en daarvoor het sy nie kans gesien nie.

“My man en seuns het eerste begin skiet, meer om te jag. Ek het besef as ek nie saam gaan skiet nie, gaan ek elke naweek alleen by die huis sit. Toe my man eendag weer na die boogwinkel toe gegaan het, het ek ‘n boog daar geskiet. In die kol op sewe tree. Die gevoel was ongelooflik. Ek was dadelik verlief op boogskiet. My man moes net daar ry en gaan geld trek sodat ek ‘n boog kon koop. Dit was in April 2009,” vertel sy.

Boogskiet is verantwoordelik vir al die stempels in haar paspoort. Sy het al in Turkye, Argentinië, Poland, Duitsland, Denemarke, Amerika, Mexico, China en Nederland deelgeneem. Sy het sedert 2010 haar nasionale-kleure in IFAA Binneshuis, IFAA Veldskiet en World Archery Binneshuis en World Archery Buite skiet verwerf. Dit is geen wonder dat sy onlangs tot die Vaal Sportmuseum, wat eersdaags sy deure gaan open ingehuldig is nie.

“My gunteling kompetisies is die 50m Outdoor World Cups. Die goue medalje wat ek in 2015 in Nimes, Frankryk by die grootste binneshuise kompetisie op die World Cup Circuit gewen het, sal ek altyd onthou. Asook die goud wat ek in gemengde spanverband saam met Rueben Brent-Meek in 2019 in Antalya, Turkye by die Outdoor World Cup gewen het, sal my bybly,” sê sy.

Jeanine van Kradenburg saam met Rueben Brent-Meek op die wennerspodium in 2019 in Antalya, Turkye by die Outdoor World Cup waar hulle goud in die gemengde span-kompetisie gewen het.

Hoewel boogskiet vir leke na ‘n ingewikkelde sport lyk is die Vaal se boogskietkoningin dit eens dat dit glad nie so moeilik is nie. “Dit verg selfdissipline, maar elke boog word spesifiek vir die skut opgestel, maar verder is dit maar soos enige skietsport. Sien die kol, mik en skiet,” vertel sy.

Om op nasionale en internasionale vlak te presteer moet ‘n skut tussen 4 000 en 6 000 pyle ‘n week skiet. Daarom spandeer sy amper 15 uur per week agter haar boog.

“Harde werk sal altyd beloon word. Daar is defnitiewe oefeninge wat elke aspek van boogskiet aanspreek. Wat ons noem boogfiksheid, om stil te mik en om die druk te kan hanteer ensovoorts. Google is ‘n groot hulp, maar toegang tot ‘n goeie afrigter is van onskatbare waarde. My weeksdae word ingedeel om elke dag ‘n ander aspek in te oefen en dan ook alles saam toe te pas.”

Omdat boë duur en intimiderend voorkom skrik dit baie mens af, maar sy is dit eens dat dit nie die geval hoef te wees nie. “Boogskiet vergelyk goed met golf. Maar met die regte advies is dit moontlik om amper met enige begroting te begin. Later kan jy opgradeer soos jou vernuf verbeter. “

Haar advies vir voornemende skuts is eenvoudig. “Die beste is om te gaan kyk as hulle oefen by ‘n klub. Die skuts is almal vriendelik en help graag nuwe of voornemnde skuts. Ek het ook my eie kliniek waar ek veral kinders afrig. Ek voorsien alle toerusting totdat hulle hul eie kan koop. Vir toerusting is dit maar altyd beter om na ‘n boogwinkel toe te gaan vir die beste advies. Ek is ’n lid van Magnum Archery. Die eienaar, Seppie Cilliers is ook ‘n veelmalige Protea-skut van die Vaal. Hy het al baie mense gehelp om op die regte en beste manier in die sport in te kom. Ek help ook graag en kan enige tyd gekontak word vir advies en raad,” sê sy.

Wat haar toekomsplanne betref, is sy steeds daarop ingestel om haar liefdesverhouding met die Groen- en Goud voort te sit. “Dit bly maar my doelwit om elke jaar die Proteaspan te haal, internasionaal deel te neem en goed te presteer. Boogskiet is my passie. Gelukkig deel my gesin dit. Dit het ‘n groot plek in ons huishouding se tydsbeplanning.”

Haar man Frans, die skoolhoof van die Laerskool Emfulenipark, is ook ‘n bedrewe skut en het al self ‘n bronsmedalje of twee by die wêrelkampioenskappe gewen en het drie keer ook sy Protea-kleure as afrigter en spanbestuurder verwerf.

Diegene wat belangstel om boogskiet as ‘n sport te beoefen kan Jeanine by 074 965 0552 skakel.

Related Articles

 
Back to top button