Local newsNationalNewsSchools

Onderwyseres: Vir party ouers sal ons net nooit goed genoeg wees nie!

"Die hele (inperking)ding is vir ons ook heeltemal vreemd en ons probeer eerlikwaar ons bes"

 

Na aanleiding van ‘n berig wat Vaalweekblad vanoggend gepubliseer het oor ouers wat meen hul skoolgaande kinders kry te veel huiswerk gedurende die inperking, antwoord ‘n plaaslike onderwyseres soos volg: (Sy het versoek om anoniem te bly).

Liewe ouers,
Ek vra met die grootste respek… Wat de hel wil julle hê???
Stuur ons nie werk nie, word daar gesê ons sit by die huis en kry salaris vir niks.
Stuur ons werk, is dit nie reg nie, dit is te veel. Altyd iets fout.
Natuurlik gaan dit meer wees as die huiswerk wat hul altyd gekry het! Want daar was dan nie klaswerk nie! Die werk wat jul met jul kinders doen is nie eers die helfte van die werk wat ons met hul elke dag in die klas doen nie. En nee, nie met 1 of 2 kinders nie. Soms met 40 in die klas.
Is dit jul werk? Nee. Het jul skoolfonds betaal en verwag onderrig? Natuurlik!
Is dit jou kind? Is dit steeds jou verantwoordelikheid? Ja!
Besef jul dat ons nooit opdrag gekry het dat ons moet werk stuur vir die kinders nie? Dat ons dit uit ons vrye wil doen? Omdat ons ons bekommer oor JUL kinders?
Baie van ons het ook kinders. Wat ook hope werk kry van hul onderwysers. So ons sit ook dalk met 2 of 3 kinders se werk wat gedoen moet word. En dan voor dit, werk ons nog eers werk uit vir jou kind om te doen! Ons het nie al ons beplanning, boeke, skryfbehoeftes en toegang tot drukkers nie. Maar ons moes ook skielik kreatief raak met maniere. Die hele ding is vir ons ook heeltemal vreemd en ons probeer eerlikwaar ons bes.
Seker maar tyd dat ons onderwysers besef ons sal net nooit goed genoeg wees vir sommige ouers nie – maak nie saak wat ons doen of nie doen nie.

 

Lees Vaalweekblad se berig van vanoggend hier onder:

*******************
“Ai onnies, julle gee te veel huiswerk!”

Ouers kla omdat kinders te veel take gedurende die inperking kry

“Asof die inperking nie reeds genoeg spanning meebring nie, word ons kinders nou oorlaai met skoolwerk. Ons as ouers probeer ons bes om ons eie kantoorwerk van ons huise af te doen, maar tussendeur moet ons ook nog probeer om ons kinders met hul skoolwerk te help. Dit hou ons soms tot laat in die nag besig.”

Só kla een van talle ouers wat Vaalweekblad privaat gekontak het oor hul kinders se groot werkslading. Al die ouers het gevra om anoniem te bly.

“Dit lyk my die inperking maak die onderwysers hiperaktief. Hulle gee vir ons kinders meer huiswerk as wat hulle in normale skooltyd kry. Net één vak se huiswerk het my kind gister ses ure lank besig gehou. Elke onderwyser vergeet blykbaar dat daar ook ander vakke is en dat élke onderwyser baie huiswerk gee,” kla ‘n ander ouer.

Nog ‘n ma sê ‘n groot probleem is dat hul kinders se huiswerk vereis dat drukstukke gemaak moet word. Ouers wat nie self rekenaardrukkers het nie, moet dan die risiko loop om uit hul huise te gaan en diensverskaffers te gaan soek wat gedurende die inperking drukwerk doen.

“As jy nie ‘n drukker in die hande kan kry nie, moet die werk met die hand uitgeskryf word – dit is ure en ure se werk. My kind se hand is al lam want elke onderwyser van elke vak vereis daagliks ‘n magdom werk en ons kan dit nie meer bekostig om elke dag print-outs te laat maak nie,” kla sy.

Van die ouers sê hulle vermoed skole het “met opset” opdrag aan hul onderwysers gegee om die kinders te “dryf” met hope werk, sodat hulle steeds op volle skoolfonds gedurende die inperking kan aandring.

“Die lewe is op die oomblik ‘n nagmerrie vir ons gesin. Ons het ‘n eenmansaak, en my vrou en ek werk van ligdag tot laat saans om ‘n inkomste te probeer verdien, wat tans minder as 20% van ons normale inkomste is. Ons werk net om darem elke dag kos op die tafel te sit. Hoe ons die skoolfonds gaan bykom, is anderdag se probleem. Ons hoop maar die skole gaan ons genadig wees,” kla een van die pa’s.

* Skoolhoofde en onderwysers wat anoniem wil reageer en hul standpunt wil stel, kan ‘n e-pos na rfichat@media24.com stuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button