Tronkstraf of boete vir dieremishandelaar
VANDERBIJLPARK. - Die meeste van ons is salig onbewus van diere wat op ‘n daaglikse basis in ons midde mishandel word en sommige selfs vir onwettige hondegevegte gebruik word.
VANDERBIJLPARK. – Die meeste van ons is salig onbewus van diere wat op ‘n daaglikse basis in ons midde mishandel word en sommige selfs vir onwettige hondegevegte gebruik word.
Rina Joubert (48) is op 2 Februarie ‘n boete van R30 000 of 15 maande tronkstraf opgelê weens dieremishandeling.
R20 000 van die boete en 10 maande van die tronkstraf is vir vyf jaar opgeskort, op voorwaarde dat sy nie die Dierebeskermingswet oortree nie. Landdros Buks du Plessis het verder gesê sy is verantwoordelik om die regskostes wat deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) aangegaan is, te betaal. Sy kan egter oor ‘n tydperk van 10 maande die R15 690 terugbetaal. Joubert is van dieremishandeling aangekla nadat inspekteurs van die NDBV 16 Amerikaanse veghonde (pitbull terriers) in ‘n baie swak fisieke toestand op haar kleinhoewe in Rietspruit gekry het. Die honde was ondervoed en hulle het oop sere gehad. Van die honde se tande was gebreek, terwyl een se kakebeen ook gebreek was.
Die honde het ook baie ou sere gehad wat mettertyd genees het, wat daarop dui dat hulle moontlik by onwettige hondegevegte betrokke was. Sommige het erge infeksie gehad, sodat selfs hul beendere gewys het. Die omstandighede waaronder die diere aangehou is, was baie swak. Hul waterbakke was vuil, die diere was vol vlooie, hul kos was vrot en die meeste was aan kettings vasgemaak. Die NDBV het die uitspraak verwelkom en gesê hulle is tevrede.









