BlogsLetterOpinionsSponsored

J.N. van der Westhuisen se Memoires – 1955 – 2005

J.N. van der Westhuisen se Memoirs - 1955 - 2005

Regte en Voorregte

As landsurgers het ons regte wat verskans is en geborg is in ons land se grondwet waarin ons heelwat regte het, want dit tel onder die wêreld se beter grondwette en word selfs as ‘n modelgrondwet vir ander lande voorgehou, maar dit is ‘n grondwet wat onderhewig is aan die land se regering wat onder sekere omstandighede regte kan byvoeg en regte kan wegneem.

‘n Regering soos alle aardse regerings wat was en wat is en nog sal wees, gebuk gaan onder korrupsie en leuens en baie tekortkominge. Hoe anders kan dit wees, want dit word daargestel deur onvolmaakte mense, daarom sal alle aardse regerings en grondwette onvolmaak wees.

By God se regering wat volmaak is, gerond op waarheid en liefde, het ons geen regte nie, ek herhaal: geen regte nie, maar baie voorregte. Elke mens se hele lewe en wese en bestaan is in Sy genade en liefde, en in ons verhouding met Hom, daarom moet ons leef en bid asof alles van Hom afhang in Jesus Christus ons redder en verlosser deur die krag en leiding van die Helilige Gees. Ons moet nooit dink dat slegte of traumatiese dinge nie met my sal gebeur nie, ons het nie daardie reg nie, ons is alleen bevoorreg om dit nie te hê nie, en dankbaar daaroor te wees. Ons geloof is die grootste genade en voorreg wat ons ooit kan besit. Moet niks in die lewe as jou reg beskou nie, dis dan wanneer jou lewensvreugde merkbaar sal verflou.Pa se briewe_Page_1

Ek wil vertel hoe ek gedink het dinge sal nie met my, of met ons gebeur nie. My gade Babette en ek is in 1955 getroud. Sy ‘n jong onderwyseres en ek ‘n jong boer – albei gebore en getoë Noord Vrystaters.

In 1957 het ons na wat destyds Suid-Rhodesië was, geïmmigreer en wel na Nuanetsi Ranch in die suidelike laeveld, waar ons baie avonture en ondervindinge gehad het. Dit was toe die grootste beesplaas in die wêreld, begin en gestig deur Cecil John Rhodes en sy British South African maatskappy (BSA) meer as 1 miljoen hektaar, grootter as die helfte van die huidige Kruger Wildtuin.

In die 1950 jare is die helfte van die Nuanetsi Ranch verdeel in kleiner plase. Dit was ongerepte onbewoonde bosveld met al die soorte wild en roofdiere en die sowat 80 plase wat sedertdien hier uitgekap is, was bekend as Ranches. Elkeen wat daar gaan boer het, kon sy Ranch se naam kies, en ons s’n was Klipdrift Ranch. Daar was geen infrastruktuur, geen paaie, geen telefone, geen krag, geen grensdrade en huise nie en 150 kilometer van die naaste dorp.

 

Die gesegde was altyd dat dit ‘n man se hemel was, ‘n vrou se verdriet en ‘n voertuig se hel. in 1960 het ek ons possak gaan haal by die Rhino Motel, sowat 50km vanwaar ons gewoon het. Die motel was op die hoofpad vanaf SA Beit Brug na Salisbury (Harare). Die possak, wat weekliks afgelewer is, was al kommunikasie wat ons met die buitewêreld gehad het.

Daar kom toe ‘n konfooi van 11 voertuie aan, almal Belge wat vlug uit die Belgiese Kongo van destyds waar Patrice Lemumba die opstand en oorname gelei het. Verskeie sulke konfooie het vandaar af deurgekom na die Suide.Pa se briewe_Page_2

Let op die jaartalle wat ek noem.

Die Belgiese Kongo was in 1960 die eerste land suid van die ewenaar waar die inwoners in opstand gekom het en oorgeneem het. Dit het geword Zaïr en vandag is dit die DRK – Demokratiese Republiek van die Kongo – In die nuus met die eerste verkiesing na 46 jaar van etniese burgeroorloë en diktatorskappe, waarin meer as 3 miljoen ongevalle en vernietiging van eiendom en infrastruktuur voorgekom het.

Hierdie konfooi Belge se roetes na hul hawens was versper en hulle enigste ontvlugting was deur die destydse Noord Rhodesië via Suid Rhodesië en Suid Afrika en dan na België. Baie van hulle is daar vermoor en hul eiendom verwoes. Hulle was geforseerde vlugtelinge en het gelyk soos vlugtelinge, onseker, verward, ontredderd. Toe hulle vertrek, dink ek selfvoldaan dat dit gelukkig nie heir by ons sal gebeur nie, ons bly al eeue saam en weet wat om te doen…

1962 het ons gehelp om vir vier gesinne wat van Kenia en Tanganjika (nou Tanzanië) af gekom het, bestuursposte op van die Ranches te kry. Hulle het ons vertel van die Mau-Mau opstande en moorde en aanrandings waarin Jomo Kenjatta die leier was. Net een môre opgestaan en die plaas en werf vol plakkers gekry. Moes oppak wat hulle kon opkry en padgee. Weer by myself gedink, gelukkig sal dit nie hier by ons gebeur nie…

 

Babette en ek was in 1963 een oggend in Fort Victoria (nou Mashvingo) by die polisiekantoor om ons dokumente in orde te kry vir ons aansoek om Rhodesiese burgerskap. Ons moes eers vyf jaar in die land woon voor ons kon aansoek doen.Pa se briewe_Page_3

In die ontvangs vertrek waarin ons staan, storm daar ‘n groep van 10 swartes in, baie brutaal en astrant en eis om die Stasiebevelvoerder onmiddelik te spreek. Die leier van die groep, het ons later eers besef was Joshua Nkomo, leier van die Matabelies. Ons, Babette en ek word toe dadelik binne die gebou ingeneem, vinnig klaar gehelp en met baie verskoning by die agterdeur uitgelaat. Nkomo het die vorige aand ‘n baie opruiende vergadering in die swart woongebied van die dorp gehou, met die gevolg dat in die oproer daarna, die polisie drie swartes doodgeskiet het.

Die koerante het dan ook berig dat hierdie drie die eerste politieke ongevalle was, na die 1891 en 1896 Matabele en Shona opstande wat Cecil Rhodes met sy huursoldate onderdruk het. Joshua Nkomo is toe ook net daar in hegtenis geneem, en Robert Mugabe net daarna, hy die leier van die Shonas.

Weer by myself gedink dat dit nie by ons sal gebeur nie…vang hulle en sluit hulle toe!

Tien jaar later in 1973, onder buitelandse druk en sanksies, word die blanke regering van Rhodesië geen keuse gelaat as om alle politieke gevangenisse vry te laat en te begin met samesprekings ten einde ‘n skikking te bereik. Na baie pogings, ook van Amerika (VSA), Engeland en Suid Afrika, kon geen skikking beriek word nie. Nkomo van die Matabelies wyk uit na Zambië, gesteun deur die Chinese en Mugabe van die Shonas, na Mosambiek, gesteun deur Rusland.Pa se briewe_Page_4

 

Die terroriste oorlog (vir hulle, Vryheidsoorlog) het in alle erns begin, eers in die noorde totdat dit sewe jaar later deur die hele land gewoed het. Baie blankes wreed vermoor en baie duisende meer onskuldige swartes ook. Verwoesting en afbrand van eiendom en doodskiet en verminking van vee.

In 1974 het ek militêre diens gedoen op die spoorlyn wat vanaf Bulawayo na Mosambiek gaan. Op die grens by Milvernia tussen Rhodesië en Mosambiek, het ons treine beman en deursoek. Dit was uitsluitlik goederetreine wat koper vervoer vanaf Zaïr (nou DRK) en Zambië na Maputo hawe. Die enkele passesierstreine vanaf Mosambiek was meestal Portugese vlugtelinge na Rhodesië. Dit was die tyd toe Frelimo die regering oorneem in Mosambiek onder leiding van Samora Marchell.

Na baie jare van ‘n stryd teen Portugal waarin baie mense gedood en vermink is en eiendom vernietig is. Met miljoene landmyne waarvan na meer as dertig jaar, nog nie almal verwyder is nie.

In herdie tyd is die spoorverkeer met Mosambiek gestop en die grens gesluit vir etlike jare. Toe eers begin ek twyfel aan my siening dat dit nie by ons sal gebeur nie, want dit het nou gekom tot op die grens na Nuanetsi en Klipdrift Ranch.

Die einde van 1979 begin die samesprekings by Lancaster House in London. Rhodesië was op sy knieë, militêr en andersins, met baie min indien enige bedingingsmag. Die gevolg dat een mens een stem demokratiese verkiesing gehou word in die begin van 1980.

Robert Mugabe regeer as president en Joshua Nkomo as adjunk president. Die blankes kry 20 setels wat slegs vir 5 jaar sou wees. Wat kan ek sê van my siening dat dit nie by ons sal gebeur nie? Ten spyte van my Kaart en en Transport waarop ek gereken het.

Pa se briewe_Page_5

Weer besef ek dat ons geen regte het nie, waar wel dat ons voorregte het, en hoe het ons dit nie ondervind in die jare van stryd nie. Ons het die oorlog derugemaak in al sy fasette. Aanvalle, ons huis en werf met alles afgebrand, landmyne werkers vermoor en vermink, krale vol beeste doodgeskiet – 210 in een nag! Ons was bevoorreg en bewaar van lewensverlies, maar van ons bure was nie so bevoorreg nie.

Ons het nog twee jaar gebly na die oorname en toe terug gekom na ons oorspronklike wortels in die Vrystaat. Albei van ons en al ons kinders het altyd gesê die 25 jaar in Suid Rhodesië wat geword het Rhodesië en wat geword het Zimbabwe, en op Klipdrift Ranch, sal ons vir niks ooit wil verruil nie.

In Babette se eie woorde: “Ons was as pioniers in ‘n ander land en weer daaruit, ek wou sê dat ons alles verloor het, maar dit is ‘n groot leuen, ons het ‘n paar wêreldse goed verloor, maar skatryk terug gekom, skatryk aan dinge wat regtig saakmaak”

Twee jaar na die oorname het sake baie positief gelyk en baie blankes wat die land voorheen verlaat het, het weer terug gekom na Zimbabwe, die boerderye weer aan die gang gkery, maar daar was ‘n dryfveer wat ons laat besluit het om in 1982 te vrkoop en terug te kom na Suid Afrika.

Saam met ons het gekom die versekerde wete dat die politieke golf van die noorde af wat oor ons gespoel het, nie gekeer of gestuit sal word op die grense van SA nie. Weë en kanale moet gevind en gebou word om die geweld en ontwrigting te herlei na orde, want die werklike totale aanslag op SA was baie groter en intenser en omvangryker as wat algemeen besef is. SA het ook al meer ge-isoleerd geraak in die tagtiger jare. Om geweld en ontwrigting te herlei na orde was menslik nie moontlik nie.

Op ‘n baie besondere manier het ek ‘n opdrag gekry om ‘n boodskap te bring, ‘n opdrag waarmee ek meer as ‘n jaar geworstel het weens die teenstand ondervind. Ek kon dit eers uitvoer nadat ek besef het dat ek in my swakheid slegs die instrument is. Vanaf die middel tagtiger jare het ek die boodskap beskeie gebring aan veral ons konserwatiewe en regse politieke leiers, maar aan ander ook. Een mens een stem demokratiese verkiesing gaan kom in SA en om dit fiesies en met geweld teen te staan gaan vir SA katastrofies en selfvernietigend wees. Die land sal letterlik en figuurlik in vlamme opgaan.

Dat die blankes ‘n belangrike rol het om te vervul in die oorgangsfase en in die toekoms daarna. Dat alleen ons Hemelse Vader die weë en kanale skep wat wel ‘n onvolmaakte saamleef sal moontlik maak, want volmaak hier op aarde sal dit nooit wees nie.

 

Ek herhaal weer, moenie dink dit sal nie met my gebeur nie. Ons besit nie die reg om dit te dink of sê nie, alleen die voorreg om dankie te sê daarvoor.

Ons hele wese en bestaan is in ons Hemelse Vader se genade en liefde en in ons verhouding met Hom. daarom moet ons bid en leef asof alles van Hom afhang in Jesus Christus ons redder en verlosser deur die krag van die Heilige Gees.

As ons nie weet hoe om te bid nie, bid Christus se gegewe gebed, dit sluit alles in. As ons deur genade ons verhoudings in plek kan stel, verhouding met my Skepper, verhouding met myself, verhouding met my naaste, ondervind ons in alle omstandigheide Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Laat ons alle veranderinge in die nuwe SA met geloof benader en aanvaar dit wat ons nie kan verander nie, verander dit wat ons kan en bid vir wysheid om die verskil te ken, want Hy regeer en Hy is getrou.

Die lewe is verandering en verandering is die lewe en dit verg op alle gebiede voortdurende positiewe aanpassing om by te hou en nie te stagneer nie.

 

Die geskiedenis herhaal hom wat politieke aangeleenthede betref, veral in Afrika lande, en dit is net ons Hemelse Vader wat ons almal in hierdie mooi land daarvan kan bewaar dat ons dieselfde pad loop as baie Afrika lande, die potensiaal is daar.

Ons het groot diverse etniese groepe en dit is die groot oorsaak van burgeroorlog met al sy gevolge en is soos ‘n kruitvat wat wag vir die vonk. Ons het Zoeloes, Xhosas, Vendas, Sothos, Shanguans, ‘n Westerse komponent, ‘n groter wordende Oosterse komponent en ook ‘n Noordelike komponent met die duisende of miljoene wat instroom vanaf die Noorde. Ons het Christene, Moslems, Voorvader aanbidders Sangomas, noem maar op.

Meer as tien jaar het reeds verloop sedert die oorname in 1994, met baie groeipyne en aanpassings kan ons nog trots wees om Suid Afrikaners te wees. Ons lewens en leefwyse het nie drasties verander nie.

Wat my betref, sien ek met geloofsvertroue uit na die toekoms vir ons en ons kinders.

 

Dit gaan goed met die mens wat op die Here vertrou.

 

J.N. van der Westhuisen

Oor ‘n tydperk van 1955 tot 2005

 

 

Vir die Afrikaner van Suid Afrika 2016

 

Die ondenkbare moes gebeur en het gebeur, naamlik een mens, een stem demokrasie.

Sodat die onmoontlike moes realiseer, naamlik vreedsame oorname.

Sodat almal in Suid Afrika ‘n toekoms sal hê, nie volmaak nie, want niks op aarde sal volmaak wees nie.

Daarom moet ons in ons daaglike gebede ook ons land Suid Afrika en al sy mense aan ons Hemelse Vader opdra. Veral ook in hierdie tye waarin ons leef vandag.

Bid vir hulle wat regeer, vir hulle wat deur ons demokratiese reg deur ons daargestel is. Die regerende party, al die opposisie partye, al die plaaslike owerhede, ook vir die plaaslike verkiesing op hande.

Kom ons vra vir Goddelike hulp om ons christelike geloof uit te leef en nie net uit te praat nie.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button