Skaapkoppers al hoe groter – VIDEO: Jannie du Plessis
VANDERBIJLPARK. – Die tweejaarlikse skaapkop-ete by die Noordwes-Univeristeit se lapa het die jaar uit sy nate gebars soos wat skaapliefhebbers by die fees kom aansit het. Rekords word elke keer gebreek en die jaar was nie ‘n uitsondering nie. Die meer as 300 gaste is bederf met net die beste en lekkerste skaapgereggies wat reeds …

VANDERBIJLPARK. – Die tweejaarlikse skaapkop-ete by die Noordwes-Univeristeit se lapa het die jaar uit sy nate gebars soos wat skaapliefhebbers by die fees kom aansit het.
Rekords word elke keer gebreek en die jaar was nie ‘n uitsondering nie. Die meer as 300 gaste is bederf met net die beste en lekkerste skaapgereggies wat reeds die vorige aand al begin berei is.
Die 190 skaapkoppe, 1 000 skaapsterte, 1 000 skilpadjies en 1 000 murgbene en baie, baie roosterbrood het die manne wat dit moes gaarmaak, laat bontstaan. Die kerrie-afval wat bestaan uit sowat 35 afvalle en sowat 20kg beestonge en vleisblokkies op stampmielies, het die monde behoorlik laat water. Met die ete wat Saterdag, 10 September gehou is, het die fees so teen 16:00 begin afskop met skaapstertjies vars van die rooster. Daarna is die skilpadjies (lamslewer in netvet) sorgvuldig gebraai en dit was verskriklik lekker. Murgbene was volgende op die spyskaart en kenners het hierdie murgies so krap-krap bymekaargeskraap en bo-op die roosterbrood uitgesprei met ‘n soutjie en peper na smaak. Die hoofgereg was die skaapkoppe vir die wat dit wou waag, en vir die swakkeres was daar darem afval en stampmielies.
Voorwaar ‘n fees om nie mis te loop nie. Belangstellendes kan die organiseerder, Gerrit du Plooy by 082 944 9290 kontak of die Facebookblad besoek deur skaapkoppers in te tik vir inligting oor die volgende ete wat in Januarie 2017 gehou word. ‘n Video sal eersdaags op vaalweekblad.com te sien wees.



