Du Preez wou glo ‘n bordeel begin
Dit is hoe die oggend van dag twee van die #DuPreezHofsaak verloop het:

10:15 – Na die teebreek het Stefan Venter, een van Du Preez se vriende, oor die tyd wat hulle saam gewerk het, getuig. Advokaat Van Wyk het die getuie verskeie vrae gevra ten opsigte van Du Preez. Du Preez het Venter vertel hy het probleme met Libanese opgetel en ‘n paar maande voor die voorval hom gevra of hy vir hom ‘n ongelisensieerde vuurwapen kan kry. Venter het nee gesê. Sake soos Du Preez se aflegging by die werk asook sy verhouding met sy seun en dogter is bespreek. Du Preez wou ook glo sy eie besigheid begin wat volgens Venter ‘n bordeel sou wees. Du Preez het Venter die oggend van die moorde gebel en daarvan ingelig.
Brandon Grové, met wie Carlia vir drie en ‘n half jaar in ‘n verhouding was is volgende as getuie geroep. Hy was elke aand aan huis van die Du Preez-gesin en het soms oorgeslaap by Carlia in haar kamer. Fanie en Thea het goedkeuring daarvoor gegee.
Grové getuig dat die huis ‘n alarmstelsel gehad het en dat Du Preez baie streng oor veiligheid was. Hy getuig dat die Du Preez-gesin ‘n hond gehad het wat enige vreemdeling op die erf sou aanval. Grové sê Du Preez het hom teen 04:30 die oggend van die voorval gebel en gesê daar is moeilikheid by die huis. Hy en die polisie was volgens hom gelyk op die toneel.
“Sorry chomma,” is al wat Du Preez vir Grové gesê het en hom ‘n druk gegee. Hy het na seep geruik en was kaal bolyf. Verdere vrae van die verdediging het gehandel oor die toesluit van deure, huisvergaderings, die alarmstelsel en Du Preez wat ‘n perfeksionis is. Grové het beaam dat daar voor elke deur ‘n Trellidoor-veiligheidshek was en dat die deure altyd gesluit was. Hy getuig ook dat Du Preez later van tyd gereeld met Carlia en Phillip baklei het.
Advokaat Van Wyk het verwys na ‘n skuifdeur wat nie heeltemal op knip gegaan het nie en Grové het dit beaam. Hy probeer egter aan die getuie bewys dat Du Preez en Carlia ‘n goeie verhouding gehad het, want hy het vir haar ‘n motor, klanksisteem en kitaar gekoop en ook gereël dat sy vir kitaarlesse gaan.
Benjamin Dippenaar het om 12:00 sy plek in die getuiebank ingeneem. Hy is sedert 2014 bekend aan Du Preez en sedert 2015 het hulle gereeld gekuier.
Dippenaar vertel dat Du Preez nege dae voor die voorval hom gevra het om ‘n gat in ‘n swart oliefiltreerder te boor, waarna hy ‘n 19mm gat geboor het. Advokaat Van Der Merwe het aan Dippenaar bewysstuk een (die oliefiltreerder) gewys en die gat wat daarin geboor is bespreek.
Die verdediging het geen vra vir Dippenaar nie, terwyl regter De Vos vrae gevra het oor die oliefiltreerder wat as knaldemper gebruik is. Dippenaar het getuig dat die veranderinge wat hy aan die oliefiltreerder gedoen het nie vir voertuiggebruik was nie.



