
Die volgende inligting is presies soos dit in die hof gebeur:
Verskeie getuies het reeds namens die staat getuig en die saak behoort ongeveer 13 dae te duur.
Die binneverhoor duur voort.
Die binneverhoor handel oor die bekentenis wat Du Preez gemaak het aangaande die moorde. Dit beteken dat daar ‘n verhoor binne ‘n verhoor is om die geldigheid van die bekentenis te bepaal en dan sal regter De Vos uitspraak lewer of die dokument tydens die verhoor toegelaat gaan word.
09:50- Adjudant Offisier Peter van Zyl is vandag in die getuiebank. Hy werk by die selle by die Vanderbijlpark-polisiestasie.
Adv. Van Der Merwe stel van Zyl voor aan die hof.
Van Zyl was teenwoordig toe Du Preez by die selle ingeboek is. Van Zyl vertel die hof wat “leg iron” beteken. Dit beteken dat die beskuldigde of gevange se bene met boeie vasgebind word. Van Zyl getuig ook dat Du Preez se voete nie aan iets vasgemaak was nie.
Hy getuig dat die selle op ‘n uurlikse basis besoek was. Die volgende oggend was sy bevelvoerder ook by die selle en Du Preez het geen klagtes gehad nie.
Die hof verdaag vir ‘n paar minute op versoek van Adv. Van Wyk om die selregister na te gaan.
10:05 – Adv. Van Wyk vra Van Zyl om sy verslag aan die hof voor te lees. Hy verklaar dat hy Du Preez vir sy eie veiligheid en ander geboei het. Adv. Van Wyk vra hoekom Van Zyl ‘n “leg iron” op Du Preez gesit het en nie op die ander in aanhouding nie. Van Zyl sê hulle was daar vir minder ernstige oortredings.
Adv. Van Wyk stel dat die “leg iron” aan die buitekant van die sel se tralies vasgemaak was. Van Zyl sê dit is nie waar nie.
Adv. Van Wyk het geen verdere vrae nie.
Regter De Vos bevestig Du Preez se weergawe oor hoe hy vasgemaak was.
10:15 – Van Der Merwe het geen verdere vrae nie. Die getuie staan af.
10:16 – Fanie du Preez is volgende in die getuiebank.
Hy word deur regter De Vos ingesweer.
Adv. Van Wyk sê aan Du Preez dat die getuienis slegs handel oor die inboek by die selle tot hy in die hof verskyn het.
Du Preez sê hy het ao. Alberts gevra vir skoene aangesien sy skoene by die toneel weggevat is. Du Preez sê hy moet Diclofenac (medikasie) twee tot drie keer ‘n dag drink. Hy bevestig dit is voorgeskryf deur ‘n dokter en die medisyne is by Dis-Chem bekom. Ao. Alberts sou later na die toneel gaan en sy skoene en pille kry.
Daarna getuig Du Preez ao. Alberts het hom na sy kantoor geneem. Hy sê ook ao. Alberts het aan hom gesê om die borgvorms in te vul en sover gaan borgtog nie aan hom toegestaan word teensy hy nie ‘n bekentenis maak nie.
Du Preez getuig dat hy ‘n verskeidenheid van vrae moes beantwoord wat ao. Alberts hom gevra het voor hy die bekentenis gaan aflê het. Du Preez beweer dat ao. Alberts hom aangesê het dat die bekentenis hom sal help om borg te kry. Hy getuig verder dat ao. Alberts toe die borgvorm in sy kantoor ingevul het en dat item 5 – 10 nie ingevul word nie. Die dokument word aan Du Preez voorgelê en hy bevestig dat dit die dokument is.
Du Preez sê dat die ander gedeeltes nie ingevul was nie want ao. Alberts het aan hom gesê die vorm sal anders ingevul word as hy borg kry.
10:30 – Volgens Du Preez het ao. Alberts vir hom gesê hy verstaan nie hoe die vuurwapens in die dak gekom het nie, want dit maak nie sin nie. Ao. Alberts sou hom glo net een aand daar hou. Du Preez beweer dat sonder die bekentenis sou dit hom verhinder dat borgtog toegestaan sal word.
Du Preez sê hy het die beserings op sy knie, rug, kop en bors aan ao. Alberts gewys. Ao. Alberts het volgens Du Preez gesê hy sal eers moet reël vir ‘n fotograaf en dat hy nie naby water moes kom nie. Ao. Alberts het toe vir hom ‘n Coke en pastei gegee. Volgens Du Preez het hy toe gevra of hy sy ouers kan skakel waarop ao. Alberts vir hom gesê het hy is nog nie formeel aangekla nie. Du Preez beweer in daardie stadium was hy net verbaal gearresteer en nog nie op papier nie.
Du Preez het aan ao. Alberts gesê hoe kan hy inligting gee oor waar en in watter vertrekke hy was. Hy kon nie stories opmaak daaroor nie. Du Preez het toe aan ao. Alberts gesê dat hy nie kan sê hy het hulle geskiet, want hy kan nie sê hy het goed gedoen wat hy nie het nie.
10:45 – Ao. Alberts het hom toe weer laat toesluit sodat die dokumentasie gedoen kan word. Volgens Du Preez het ao. Alberts vir hom gesê hy moet die nag daaroor dink.
Volgens Du Preez het ‘n ander SAPD-lid daar ingekom met die ‘short steps’ voetboeie. Die polisieman het vir hom ‘n grys kombers gegee en die blou matte uit die sel gehaal en by ander se sel ingesit. Hy moes toe ingaan met ‘n klein plastiek bekertjie wat ao. Alberts hom gegee het. Du Preez bevestig daar was ‘n toilet en waterbak. Du Preez getuig hy moes sy voete toe deur die tralies sit waar die voetboeie toe aan sy voete vasgemaak is. Du Preez sê die ander twee in die sel moes vir hom gaan water haal. Du Preez getuig ook hy moes die koppie gebruik om te urineer en dan by die deur uitgooi. Du Preez sê hy moes so die hele aand geslaap het. Du Preez sê ao. Alberts wou ‘n halfuur lank die volgende oggend die storie by hom hoor wat hy moes opmaak.
Du Preez kom egter baie arrogant voor in die hof en wys heeltyd vinger na ao. Alberts.
10:55 – Die hof verdaag vir tee.
















