CommunityNews

Gemartelde plaasvrou se toestand nou stabiel

Vrou ure lank gemartel en haar voete herhaaldelik met boormasjien deurboor

Retha Fitchat

VEREENIGING. – Dit gaan in die omstandighede goed met me. Nicci Simpson, wat gister erg in ‘n plaasaanval beseer is en skynbaar etlike ure lank met ‘n elektriese boor gemartel is.
Volgens mev. Selka-Ann Badenhorst, kliëntediensbestuurder van Vereeniging Mediclinic, is me. Simpson (64) uit die aard van die saak nog erg geskok oor die gebeure. Hoewel die aanvallers haar baie seergemaak het, is sy buite gevaar en haar toestand is nou stabiel.
“Sy is emosioneel ‘n baie sterk vrou, en sy onthou alles wat met haar gebeur het,” sê Selka-Ann.
Me. Simpson, ‘n boervrou van Kalbasfontein tussen die Vaaldriehoek en Westonaria , is gister (Vrydag 10 Maart) in die voormiddag deur twee of drie gewapende rowers by ’n plaashek oorval.
Hulle het een of meer van haar honde doodgeskiet, haar met messe gesteek en haar toe na die plaashuis geneem waar sy ure lank gemartel is.

Die rowers het haar vuurwapen, selfoon en motor gebuit en by ’n kluis ingebreek. Haar motor het in ’n mielieland sowat 300 m van die plaashuis gaan staan, waar die rowers dit gelos en te voet die veld in gevlug het.
‘n Verbyganger het laat die middag een van haar honde dood by die plaashek sien lê en alarm gemaak. Lede van die Plaaswag in die omgewing het toe ondersoek ingestel en op die getraumatiseerde Nicci afgekom, waar sy bebloed aan ‘n stoel in haar huis vasgemaak was.

“Die muur buite die huis was met bloed besmeer en die hele kamer was vol bloed,” sê Sarel Cilliers, Simpson se buurman en ’n plaaswaglid.
“Sy was baie getraumatiseerd en kon nie dadelik al ons vrae beantwoord nie, maar die bloed in die kamer waar sy gemartel is, was al droog toe ons daar aankom, so sy was vermoedelik ’n hele ruk lank al daar,” het mnr. Cilliers aan Media 24-verslaggewers gesê.
Me. Simpson is op die toneel deur paramedici van ER24 behandel voordat hulle haar na Vereeniging Mediclinic vervoer het. Sy het verskeie steekwonde opgedoen en haar voete is met ‘n elektriese boormasjien deurboor terwyl sy aan die stoel vasgemaak was. Haar knie is ook verbrysel en van haar ribbes is gebreek.
Sy word Maandag geopereer om ernstige beserings aan haar voete te behandel.

Die Polisie, die Plaaswag en plaaswerkers werk saam in ‘n poging om die verdagtes vas te trek en alle moontlilke leidrade op te volg.  Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Me. Nici Simpson (64) na haar beproewing. Sy sterk in Vereeniging Mediclinic aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button