Gemeenskapsbetrokkenheid help om misdaad te voorkom
Gemeenskapsbetrokkenheid help om misdaad te voorkom
VANDERBIJLPARK. – AfriForum se tak het tussen 11 en 12 Maart 2017 aan ‘n uitgebreide misdaadvoorkomingsaksie in Vanderbijlpark en omgewing deelgeneem. Dit was deel van ‘n nasionale massapatrollie waaraan AfriForumtakke vanaf regoor Suid-Afrika deelgeneem het.
Plaaslik het die SAPD, agt verskillende buurtwaggroepe (insluitende groepe van Vaalpark en Meyerton) en vier sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Daar is van 68 voertuie gebruik gemaak, insluitende twee motorfietse. Meer as 2800 km is tydens die patrollie afgelê. Voertuigkontrolepunte is opgestel en beman. Van die algemene probleme wat geïdentifiseer is: bestuur onder die invloed, ongeldige voertuiglisensies, bestuur sonder ‘n bestuurslisensie en besit van dagga. Die tak se patrolliekoördineerder, Gaby Berendt, het gesê: “Geen prioriteitsmisdade het gedurende die tydperk van die patrollie plaasgevind nie. Dit beklemtoon die doeltreffendheid van sigbare polisiëring.”
Corné Cronjé, voorsitter van die tak se veiligheidspan, het bygevoeg: “Spanwerk, betrokkenheid en die wil om ‘n verskil te maak, is hoe ons aanhou om misdaad in ons dorp en omgewing te bekamp. Ons bedank elke betrokkene vir die opoffering en onselfsugtige bydraes.” Wil jy meer weet oor hoe om by AfriForum Vanderbijlpark en die tak se suksesvolle projekte betrokke te raak? Stuur gerus e-pos aan afriforumvdb@gmail.com of besoek die tak se Facebookgroep.





